STILBAAI NUUS - Seagulls-rugbyklub het Donderdag 'n onverwagte terugslag ontvang toe Knysna United laat weet het dat hulle weens onvoorsiene omstandighede nie hul ligaverpligtinge teenoor die Melkhoutfontein-span kan nakom nie.
Die wedstryd, wat Saterdag 13 Junie in Melkhoutfontein gespeel sou word, is gevolglik afgelas.
Volgens die reëls sal Seagulls die ligapunte vir die wedstryd ontvang, maar die afstel beteken dat die span broodnodige wedstrydoefening misloop in aanloop tot hul volgende en moontlik laaste ligawedstryd van die eerste ronde teen Oudtshoorn op 27 Junie.
Die jongste afstel volg op twee vorige ontwrigtings in Seagulls se seisoen. Die wedstryd teen Prins Albert, wat op 23 Mei sou plaasvind, asook die kragmeting teen Oudtshoorn op 6 Junie, moes albei weens stormweer en die skade wat dit in die streek veroorsaak het, uitgestel of afgestel word.
In die geval van die Prins Albert-wedstryd is die ligapunte tussen die twee klubs verdeel - punte wat moontlik in geheel aan Seagulls toegeken kon gewees het indien die wedstryd nie afgestel was nie.
Vir spelers en ondersteuners is die jongste ontwikkeling 'n groot teleurstelling. Seagulls se laaste tuiswedstryd was reeds op 2 Mei, wat beteken dat die klub se lojale ondersteuners nou al meer as 'n maand sonder rugby-aksie op Melkhoutfontein se veld is.
Op hierdie stadium van die seisoen, sal Seagulls hoop dat hul oorblywende wedstryde sonder onderbrekings afgehandel kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’