HEIDELBERG NUUS - Heibi het Saterdag 13 Julie hul tuiswedstryd teen die kampioenspan, Progress van Rosemoor in George net-net met 21-20 gewen.
Die rustydtelling in dié opwindende SWDRU Premierligawedstryd was 10 gelykop.
Progress se plan om keer op keer met hul vlugvoetige agterlyn aan te val het misluk en hulle het ook nie hul kanse benut om punte met strafskoppe vlak voor die pale aan te teken nie. Dit was veral in die eerste 25 minute van die wedstryd opmerklik toe hulle gebiedsvoordeel geniet en in Heibi se kwartgebied geboer het.
Die tuisspan se verdediging was deurgaans rotsvas en Lyndon Hartnick, kaptein en agsteman, het sy troepe soos 'n ware generaal gelei.
Dit was duidelik dat albei spanne vir die nagenoeg 2 000 fanatiese toeskouers waarde vir hul geld wou gee. Nieteenstaande die feit dat Progress die tuisondersteuners naels laat kou het met hul verwoede aanvalle vroeg in die wedstryd, was dit Heibi wat eerste punte met 'n strafskop deur Corbin Swartbooi aangeteken het. Progress kon eers in die 28ste minuut hul eerste punte met 'n drie deur hul kaptein en haker, Brainton Booysen aanteken, wat deur Aiden Joseph verdoel is.
Die eerste van Heibi se twee drieë is in die 34ste minuut deur Anrich Manho gedruk en deur Swartbooi verdoel om met 10-7 voor te loop. Dit was egter van korte duur en het Joseph met 'n strafskop in die 40ste minuut geslaag om die rustydtelling gelykop te maak.
Die eerste punte in die tweede helfte is weer deur Heibi aangeteken toe Swartbooi met 'n strafskop slaag. Progress se Werner Jacobs druk egter kort daarna 'n drie, wat nie verdoel word nie. In dié wedstryd wat deur-gaans wipplank gery het, slaag Swartbooi weer met 'n strafskop om die telling 16-15 te maak. Die voorsprong is gerek toe BG Uys in die hoek gaan, maar die doelskop misluk.
Met slegs vier minute voor die eindfluitjie, slaag Kirsten Heyns van Progress met 'n drie wat vir die naelskraapse eindtelling sorg.
Progress se derde span wen met 10-8 na hulle rustyd met 5-3 agter was.
Puntemakers:
Progress - Stefano Olivier (1 drie), Andrico Ruiters (1 straf- en 1 doelskop).
Heibi - Ashwille Pieters (1 drie), Carlo Williams (1 strafdoel).
Heidelberg se tweede span wen met 21-13 na hulle rustyd met 14-10 voor was.
Puntemakers:
Heibi - Daylin Manho (3 drieë, 2 doelskoppe), Joneil September (1 doelskop).
Progress - Aldeano Botha (1 drie), Jaydon Fredericks (1 straf en 1 doelskop).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'