HEIDELBERG RUGBY NUUS - Heidelberg-rugbyklub se A-span is Saterdag 10 Augustus in hul SWDRU Premierliga-wedstryd lelik ontnugter toe Crusaders van George hulle vir die tweede keer die seisoen gewen het.
Dié keer was dit 'n loesing van 39-10 in vergelyking met hul eerste nederlaag van 26-21.
Die rustydtelling op Outeniquapark was 12-3 in die tuisspan se guns.
Heibi het eers kort voor die eindfluitjie geblaas het enigsins invloed op die wedstryd gehad. Behalwe in die vaste skrums het Crusaders vir die hele duur van die wedstryd die botoon gevoer. Die wedstryd het wel goeie hardlooprugby opgelewer wat deur hardnekkige verdediging gekenmerk is. Crusaders het ses drieë teenoor Heibi se een aangeteken.
Corbin Swartbooi het Heibi se eerste punte met 'n strafskop aangeteken, hul enigste punte in dié helfte. Hy was ook vir al sy span se ander punte verantwoordelik met 'n drie en 'n doelskop laat in die tweede helfte.
Crusaders se drieë is deur Curtley Scheepers (2), Earl Rouls, Dwayne Smart, Layle Delo (kaptein) en Jadian Onkers aangeteken. Gladwell Jaftha het met 'n doel- en strafskop geslaag, terwyl Luzane Williams en Arden Wesso elk 'n drie verdoel het.
Heidelberg se tweede span het vroeër die dag met 26-10 verloor nadat hulle rustyd met 19-5 agter was. Vir Crusaders het Keanan Borcherds, Heinrich Fielies, Werner Heunis en Eden Belelie elk 'n drie gedruk. Lionel Mpisani het met drie doelskoppe geslaag. Heibi se driedrukkers is Daylin Manho en Jemile September.
Heibi se derde span het met 22-6 verloor nadat hulle rustyd met 10-0 agter was. Crusaders se drieë is deur Ricardo Frans, Raywin Frans en William Frans aangeteken. Raywin het ook met twee doelskoppe en een strafskop geslaag.Vir Heibi het Carlo Williams met twee strafskoppe geslaag.
Heibi beklee steeds die vierde plek op die ligatabel.
Marcel Marais, Heibi-skrumskakel, breek weg van die skrum en maak hom gereed om die bal na sy agterlyn te stuur. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'