Gallery
RIVERSDAL NUUS - Reën en 'n nat rugbybal gaan nie altyd hand aan hand nie, maar Hoërskool Langenhoven se eerste rugbyspan het ná 'n aanvanklike gesukkel in die eerste helfte hulself reggeruk om hul kragmeting teen Bredasdorp met 17 - 11 te wen.
Die besoekers was rustyd met 8 - 0 voor en dit het gelyk of hulle die tuisspan in 'n wurggreep het.
Die grootste deel van die spel is in die middelveld beslis en Langenhoven het met doellose skoppe te veel besit afgestaan.
Ná die draaislag het hulle egter die stang vasgebyt en Bredasdorp vir die grootste deel van die wedstryd stadigaan doodgewurg.
Voorlangs het Johan Gerber (stut), Heins Meintjies (agtsteman), Deon Karstens (flank) en die stut Cheslyn Abrahams met kraglopies Bredasdorp se verdedigingslyne afgetakel. Gerber se drie het juis gekom nadat hy goed vier verdedigers op pad doellyn toe uit die pad gestorm het.
Op losskakel het Gemaine Hoogbaard en die heelagter, Jayden Lakay, met hul dartellopies beïndruk.
FOTOGALERY: Rugbywedstryd tussen Langenhoven en Bredasdorp
Willneathan Bailey het ook vir Langenhoven gaan druk terwyl Hoogbaard met albei doelskoppe en 'n strafdoel suksesvol was.
Langenhoven se o.15-span het met 0 - 15 vasgeval.
Marko Fabo laat die gras behoorlik spat met sy duikslag op 'n speler van Bredasdorp.
Johan Gerber, sterk stut van Langenhoven, val oor die doellyn vir 'n drie nadat hy goed vier verdedigers uit die pad gestoomrolller het. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'