Wat die toernooi meer besonders maak, is dat die vier groot klubs in Hessequa, Riversdal Dorp, Rangers van Albertinia, Heidelberg rugbyklub en die Seagulls van Stilbaai daarin gaan kragte meet.
Die hoofdoel van die spesiale toernooi is om rugby as sport te ontwikkel en om jeugmisdaad hok te slaan. Verteenwoordigers van die klubs het Vrydagaand, 1 Februarie 'n spesiale toernooi bekendstellingsfunksie bygewoon by die Lappiesbaai restaurant in Stilbaai, met die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel en haar gade, Dolf as gaste. Mnr. Jakkie Wessels, (uitvoerende bestuurslid: SWD rugby) het ook die funksie bygewoon.
Die burgemeester het tydens haar toespraak beklemtoon dat die idee van 'n rugbytoernooi, met die doel om die jeug van Hessequa op te hef deur middel van die sport, 'n wenresep is veral aangesien al vier klubs as 'n eenheid en sonder politiek gaan saamwerk om dié doel te bereik. 'n Verdere besonderse uitvloeisel van die toernooi is dat daar daagliks tydens die toernooi, vanaf 10:00 tot 12:00 rugbyklinieke aangebied gaan word waartydens spelers van die streek kwaliteit tyd gaan terugploeg in die gemeenskappe van Hessequa. Die kinders, spelers en afrigters sal hier geleentheid gegun word om onder leiding hulself verder te ontwikkel.
Laerskool kinders kan veral hierby baat vind, aangesien hulle die geleentheid gegun gaan word om kwaliteit rugbyafrigting te ontvang. Volgens Grant Riddles, voorsitter van die Seagulls rugbyklub het die idee van 'n spesiale gesamentlike rugbytoernooi in 2012 opgekom in 'n gesprek waarna die bal letterlik aan die rol gesit is.
Die burgemeester, die Hessequa munisipaliteit, mnr. Chris Onrust (bestuurder, gemeenskapsdienste, Hessequa munisipaliteit), mnr. Nicky Juta en mnr. Eksteen het hul volle gewig agter die toernooi gegooi en is almal sedertien in rep en roer om te verseker die toernooi verloop seepglad. Fondse sal genereer word tydens die toernooi om rugbyklubs se finansiële laste te verminder en onderlinge samewerking tussen hulle en die gemeenskap te bewerkstellig. Tydens die toernooi en in die finale sal 'n Hessequa gekombineerde span gekies word om teen 'n Premierligaklub deel te neem.
Wedstryd program:
- Albertinia Sportgronde (Theronsville), 9 Februarie:
- Albertinia teen Riversdal Dorp.
- Seagulls teen Heidelberg (A en B spanne).
- Heidelberg Sportgronde (Dorpsveld), 16 Februarie:
- Riversdal Dorp teen Seagulls.
- Albertinia teen Heidelberg.
- Stilbaai (Melkhoutfontein Sportgronde), 23 Februarie:
- Albertinia teen Seagulls.
- Riversdal Dorp teen Heidelberg.
- Riversdal (Riverville), 9 Maart:
- Hessequa gekombineerde span teen Mosselbaai Barbarians.
Verdere navrae:
Alle besighede en rugbyliefhebbers word uitgenooi om die toernooi te ondersteun. Vir verdere inligting kontak mnr. Nicky Juta by 076 770 2273 of 028 713 1370.
Sien nog foto's hier.