HEIDELBERG NUUS - Albei spanne van die plaaslike rugbyklub is steeds die voorlopers in die SWDRU Presidentsliga (Langebergstreek) na afloop van Saterdag 22 Julie se wedstryde.
Heidelberg het Riverdal Dorp in 'n klipharde wedstryd op Riversdal se sportgronde met 75-20 verslaan.
Die rustydtelling was reeds 42-6 in die besoekers se guns. Hul balverspreiding was van hoë gehalte en die drieë is een na die ander ingeryg. Vir Heidelberg se A-span het Corbin Wibooi, Martin Hartnick, Andries Manho, Marcelino Meyer, Fernoldt Buis, Jason Liebenberg, Simon du Toit en Denvor Lutz drieë gedruk.
Lutz het met 'n meesterlike vertoning gesorg dat hy as Man van die Wedstryd aangewys is. Hy is die oom van Rudy Paige, Heidelberg se eerste Springbok.
Heidelberg se B-span het ook 'n briljante wedstryd gehad en sit 63 punte op die telbord teenoor Riversdal se 5 punte. Hul druk altesaam 11 drieë, met oud-veteraan Lorton Peterzen (haker) wat gewys het dat hy nog lank nie oor die muur is nie en twee drieë vir sy span aanteken.
Die ander driedrukkers is Mcdonald Marais, Carlo Williams, Branwill Human, Lorton Peterzen, John Situkutezi en Divan Meyer (reserwe). Die skopwerk is deur Williams (losskakel) en Bronwin Adams behartig. Eersgenoemde teken 26 punte vir sy span aan.
ARTIKEL: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'