HEIDELBERG NUUS - Dié rugby-mal dorp is weer in groot afwagting vir 'n moontlike drieëfees wanneer Heidelberg se spogproduk, Heibi, vandag sy seisoen teen die verdedigende kampioene, Evergreens van Pacaltsdorp, afsluit.
Hoewel Heibi vanjaar een van sy swakste seisoene beleef, bly die span se fanatiese ondersteuners vol vertroue dat die tuisspan in die laaste wedstryd van die seisoen sy staal sal wys en die jaar op 'n hoogtepunt sal afsluit.
Intussen het dit aan die lig gekom dat die klub ná 'n dissiplinêre verhoor streng teen sy voormalige voorsitter en uitvoerendekomiteelid van die Suidwestelike-Distrikte Rugbyunie (SWDRVU), Julian Buis, opgetree het.
Buis se lidmaatskap van die klub is glo tot die einde van die 2027-seisoen opgeskort.
Volgens inligting is hy op ses aanklagte verhoor en op al ses aanklagte skuldig bevind.
Meer besonderhede oor die dissiplinêre aangeleentheid sal na verwagting later bekend gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’