HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike rugby-klub het Saterdag 6 Augustus hul kanse om 'n tuis halfeindstryd aan te bied, lewendig gehou met 'n verdiende sege van 17 - 13 oor Progress van George.
Heibi was rustyd met 6 - 6 gelykop in hul SWDRU Superliga A-wegwedstryd.
Dit was vanaf die afskop duidelik dat albei spanne die belangrikheid van die wedstryd om die tweede plek te verseker, besef het.
Die reënerige toestande het nie die tempo en gehalte van spel belemmer nie en puik hardlooprugby het vir 'n opwindende wedstryd gesorg.
Die wedstryd het deurgaans wipplank gery en was tot in die doodsnikke in die weegskaal. Dit is gekenmerk met goeie aanvallende spel, maar ook deur rotsvaste verdediging deur beide spanne.
Die wedstryd tussen die tweede spanne het met 15 elk gelykop geëindig nadat Heibi rustyd met 12 - 5 voorgeloop het.
In die eerste wedstryd van die dag het Progress se derde span met 17 - 9 gewen na hulle rustyd met 17 - 6 voor was.
Puntemakers
Eerste spanne
- Heidelberg: Drie - Pietie Uys (plaasvervanger regtervleuel); strafdoele - Uys (2) en Corbin Swartbooi (heelagter)(2).
- Progress: Drie - Hilton Kiamanda (slot); strafdoele - Jason Wagman (losskakel) (2); doel - Wagman.
Tweede spanne
- Heidelberg: Drieë - Thomlin Meyers (slot), Hughan Meyers (stut); doelskop - Reevin February (heelagter); skepskop - Daylin Manho (skrumskakel).
Derde spanne
- Heidelberg: Strafskoppe - Veandré Carelse (heelagter) (3).
- Progress: Drieë - Carlen van Coller (regtervleuel), Ethan van Wyk (haker); doelskoppe - Franklyn Booysen (losskakel) (2); strafskop - Booysen.
Heibi se volgende wedstryd is tuis teen die ligavoorlopers, Crusaders van George.
'n Titaniese stryd kan verwag word met Crusaders wat nog onoorwonne die seisoen is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'