SUID-KAAP RUGBY NUUS - Die eerste ronde van die SWD-klubrugbyreeks het op Saterdag 8 Junie ten einde geloop.
Klubs het nou kans gehad om vir die tweede ronde wat op Saterdag 22 Junie begin voor te berei.
Sover het Heidelberg se spanne besonder goed gevaar, met die A-span vierde na Progress en Crusaders (George) en die voorloper, Evergreens (Pacaltsdorp), wat in hierdie stadium bo-aan die punteleer is.
Heidelberg het aan die begin van die seisoen 'n '16de speler' bygekry in die vorm van honderde toeskouers wat week na week saamreis om die spanne te ondersteun.
Tydens hul wegwedstryd teen Pacaltsdorp op Saterdag 8 Junie het 16 minibussies, buiten privaat voertuie, die parkeerterrein vol gestaan. Op die paviljoen was skaars plek vir die plaaslike ondersteuners. Die veld was reg rondom toegepak om die sleutelwedstryd tussen Evergreens en die in-vorm Heibi-span te sien.
Baie mense glo die deurslag is gegee deur die dreunsang van die Heibi-toeskouers en die orkes wat hulle begelei het. Die sang neem toe in volume wanneer die span binne die 22m gebied van hul teenstanders kom en bereik 'n crescendo namate die span nader aan die doellyn beweeg. Dis hierdie fanatiese aansporing, word gesê, wat dan verseker dat punte aangeteken word.
Dis ook daarom, volgens gerugte, dat Heidelberg-klub versoek is dat die orkes nie saamgaan Pacaltsdorp toe nie. Tog, toe die hoofwedstryd begin, het die orkes op die paviljoen verskyn en die voorlopers moes uiteindelik die knie met 39-22 teen die begeesterde Heibi buig na 'n taai wedstryd tussen twee spogspanne van die SWD-rugbyunie.
Die '16de speler' is goed georganiseerd. Bussies word reeds lank voor die tyd bespreek. Elke bussie het 'n organiseerder wat geld insamel en die bussie vol maak. Bussies van Riversdal en Slangrivier, elk met gereelde passasiers, ry Saterdae saam met die span. Vrydagaande oefen die hoofkoor nuwe liedjies. Volwassenes en kinders word oral in hempies met 'Ek is 'n Heibi-ondersteuner' en die klubwapen daarop gesien. Alles word deur die ondersteunersklub gereël en dit lyk nou asof Heibi se ondersteuners net so gevrees word soos die spanne self.
Hulle is ook die aansporing waarom daar nou beplan word om 'n sport- en kultuurforum te stig om toe te sien dat daar altyd 'n stroom mense is wat die aktiwiteite van die dorp aan die gang hou, maar ook toesien dat die akademiese kant van die dorp se jongmense dieselfde aandag as sport en kultuur geniet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'