HEIDELBERG NUUS - Die dorp was gister, Sondag 15 September, in ekstase met die dorp se spogproduk, Heidelberg-rugbyklub, oftewel Heibi soos die klub alombekend staan, se sukses in die SWD-rugbyunie se rugbyeindstryd Saterdag op Outeniquapark in George.
Dié klipharde stryd tussen Heibi en Groot-Brakrivier het ná ekstra speeltyd met 32 - 32 gelykop geëindig.
Hoewel ondersteuners van albei spanne dalk reken hul span moes dalk gewen het, sal meeste seker saamstem dat dié gelykopuitslag waarskynlik regverdig is.
Nagenoeg 200 fanatiese ondersteuners het Sondag in Heidelberg in ongeveer 70 voertuie opgedaag om aan die feesvieringe deel te neem.
Die konvooi het deur al die strate in Heidelberg gery en luid op hul toeters geblaas waarna hulle op die rugbyveld die jolyt met 'n stemmige dankseggingsdiens afgesluit het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’