Update
HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 27 April hul wegwedstryd teen Bridgton met 29-27 gewen nadat hulle rustyd met 22-10 voor was.
Dié wen vir die besoekers is soete wraak vir verlede seisoen se twee wedstryde wat hulle teen Bridgton verloor het, waarvan die laaste een chaoties geëindig het.
Vanaf die afskop het Heibi dit duidelik gemaak dat hulle speel om te wen. Hulle het aanval na aanval geloods en behoorlik druk op die tuisspan geplaas. Die eerste punte is binne die tweede minuut van spel met 'n drie deur Gershom van Rooyen (linkervleuel) aangeteken. Corbin Swartbooi (regtervleuel) het dit verdoel om met 7-0 voor te loop.
Die tuisspan het hul eerste punte in die 15de minuut met 'n strafskop deur Anver Venter (kaptein en heelagter) behaal. Dit is met 'n drie in die 21ste minuut deur Levano Nathan (losskakel) opgevolg, wat deur Venter verdoel is sodat hulle met 10-7 voorloop. Heibi het kort daarna weer teruggeslaan met 'n drie deur Van Rooyen, asook 'n strafskop deur Swartbooi om weer die voortou met 15-10 te neem.
Met vier minute oor voor rustyd het Heibi hul voorsprong vergroot met 'n pragdrie onder die pale deur Shirgené Swartbooi (heelagter). Sy broer, Corbin, het dit verdoel om met 22-10 voor te loop.
Bridgton het na die breek munt geslaan uit hul besoekers se ongedwonge foute en hulle eerste punte in die tweede helfte met 'n drie deur Charlston Ewerts (plaasvervanger-linkervleuel) aangeteken om die telling tot 22-15 te laat krimp. Heibi antwoord met 'n drie in die 58ste minuut deur Van Rooyen, wat deur Swartbooi verdoel word. Heidelberg se voorsprong rek na 29-15, maar Bridgton kom terug met twee drieë deur Bradwin Wanies. Adrian Booysen het die laaste drie verdoel.
Melding moet van Heibi se jong skakelpaar, Rudy October (skrum) en Eslin Naudt (losskakel) gemaak word wat die wedstryd soos generaals beheer het.
In die eerste wedstryd van die dag het Bridgton se derde span met 52-7 gewen nadat hulle rustyd met 24-0 voor was. Heidelberg se tweede span het die bordjies verhang en met 18-15 gewen nadat hulle rustyd met 15-5 voorgeloop het.
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi neem wraak
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'