RUGBY NUUS - Heidelberg het Evergreens se veldtog in die SWD Super A-klubrugbyliga verlede Saterdag beëindig toe hy dié halfeindstryd in die Pacaltsdorp-stadion met 18 - 13 gewen het.
Met dié oorwinning het Heibi vir die tweede agtereenvolgende jaar na die eindstryd van die topliga deurgedring.
Hessequa se bestes sal Saterdag 11 November teen Groot-Brakrivier op Outeniquapark in George te staan kom om die SWD se klubkampioen vir 2023 te bepaal.
Daar is vooraf wyd bespiegel dat Evergreens, wat die laaste ruk 'n opwaartse kurwe in hul spel getoon het, die groot gunsteling was om die halfeindstryd te beklink. Sy beter posisie op die punteleer en die tuisveldvoordeel het in Evergreens se guns getel, maar dit het nie die besoekers enigsins afgeskrik nie.
'n Sterk wind wat deurentyd gewaai het, was nie ideaal vir vloeiende spel nie. Heibi het verkies om in die eerste helfte saam met die wind te speel en het dié omstandighede goed uitgebuit om Evergreens met hoë lugskoppe te peper.
Fernold Buis, stewige senter van Heidelberg, word deur 'n speler van Evergreens aan sy arm beetgekry en afgetrek grond toe.
Jameson Meyer gooi sy teenstander met bal en al grond toe.
Die tuisspan moes hul keer ken en is vir lang tye in hul eie half- en kwartgebied vasgepen. Dit was feitlik onmoontlik om teen die wind gebiedsvoordeel met lynskoppe te wen en dit het Evergreens vir 'n groot deel van die eerste helfte op die agtervoet gehou.
Heibi se pak voorspelers het die toon aangegee, veral in die skrums, en Evergreens laat les opsê. In die lynstane het dit ook aan beide kante gesukkel met akkurate ingooie hoewel die besoekers hier effe beter gevaar het.
Met rustyd was Heibi met 13 - 8 voor danksy die sterk vertoning van sy agttal.
Evergreens het in die tweede helfte, saam met die wind, stukke beter vertoon en Heibi se verdediging behoorlik getoets. Veral in die laaste 20 minute het Evergreens die besoekers se doellyn verwoed aangeval, maar hul verdediging het gehou.
Akkurate skopwerk aan Heibi se kant, ten spyte van die sterk wind, was deurslaggewend.
Vir Evergreens is dit neusie verby, maar vir Heidelberg wink daar bekerglorie.
Lyndon Hartnick, kaptein van Heidelberg, loop 'n speler van Evergreens onderstebo met sy spanmaat Fernol Pretorius agter hom vir ondersteuning. Foto's: Hugo Redelinghuys
Marcelino Meyer op loop met die bal nadat hy twee verdedigers afgestamp het. Lyndon Hartnick (middel) volg hom terwyl Fernol Pretorius (links agter) sake dophou.
Fernold Buis probeer hom uit die duikslag loswikkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’