HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het weereens verlede Saterdag 14 Oktober op hul tuisveld met hul laaste ligawedstryd teen die verdedigende kampioene, Crusaders van George, bewys dat hulle 'n krag is om mee rekening te hou toe hulle die wedstryd met 19 - 15 gewen het.
Met die draaislag was die telling in die Super A-ligawedstryd 0 elk.
Die wedstryd is voor- en agterlangs kliphard gespeel en geen genade is getoon of gevra nie.
Sprankelende hardlooprugby is soms opgedis en albei spanne het hul doellyn met mening verdedig.
Beide spanne het drie keer gaan druk, met die verskil dat Heibi twee van sy drieë verdoel het om as oorwinnaars van die veld te stap.
Vir die tuisspan het Marcel Marais (skrumskakel), Ivor van der Merwe (slot) en Jacques Thyse (haker), elk een drie gedruk, terwyl Eslin Naudt (losskakel) met twee doelskoppe geslaag het.
Vir Crusaders het Clint Wagman (senter), Elrick Alexander (regtervleuel) en Damian Cedras (plaasvervanger-skrumskakel), elkeen 'n drie gedruk.
André Maxim in volle vaart met die bal.
Ivor van der Merwe, woelige slot van Heidelberg, bars deur Crusaders se verdediging met die bal.
Die tuisspan het wel al drie hul wedstryde gewen, maar hulle is deeglik bewus daarvan dat hulle volgende wedstryd tuis of weg in die halfeindstryd, geen Sondagmiddag-uitstappie sal wees nie.
Heibe se derde span was naelskraap met 10 - 8 aan die wenkant nadat hulle rustyd met 10 - 3 voorgeloop het. Vir Heibi het Laughton Pieterzen (haker) en Sadrick Pieterse (flank), elk een keer gaan druk.
Die besoekers se puntemakers was Leon Biel (senter), met 'n drie en Jovan Koert (flank), wat met 'n strafskop geslaag het.
Die tweede spanne se kragmeting het ook wipplank gery voordat Heibi met 28 - 22 kon wen. Die rustydtelling was 14 - 12 in hul guns.
Vir Heibi het Reginald Salmon (senter), Germain Hoogbaard (skrumskakel), Duvin Jacobs (haker) en Leigh-Roskey Domingo (stut), elk een drie gedruk. Hoogbaard het ook drie doelskoppe oorgeklits, terwyl Carlo Williams (plaasvervanger-regtervleuel), ook een drie verdoel het.
Vir Crusaders het Keanan Belelie (regtervleuel), twee keer gaan druk, terwyl Pieter Hektoor (heelagter en kaptein), asook Shaquile Hardnick (flank), ook een drie elk aangeteken het. Damian Cedras (losskakel), was net suksesvol met een doelskop.
Lindon Hartnick, kaptein van Heidelberg, word deur verdedigers van Crusaders omsingel.
Jason Liebenberg (met bal) word van agter af vasgevat. Foto's: Heinrich Fortuin
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’