HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het Saterdag 20 Augustus weereens sy kanse om 'n tuishalfeindstryd aan te bied, verstewig met 'n taai sege van 22 - 15 oor Blanco van George.
Heibi was met rustyd met 5 - 7 agter in dié Superliga A-wegwedstryd.
Ten spyte van die nat toestande wou albei spanne die bal lug gee en is die toeskouers met goeie aanvallende spel vermaak. Heibi, wat nie op volle sterkte was vir die wedstryd nie, het nie so goed gevaar in die eerste helfte nie, maar ná rustyd met meer erns voor- en agterlangs ingeklim om spel te probeer domineer.
Blanco het self nie laat slap lê nie en Heibi moes soos Trojane verdedig om die sege te verseker. Die kragmeting het deurgaans wipplank gery en was tot in die doodsnikke in die weegskaal.
Vir Heibi het Lorenzo Gordon (linker-vleuel) twee drieë gedruk en Francois Pieters (senter) een. Corbin Swartbooi (regtervleuel) het twee drieë verdoel en met 'n strafskop geslaag.
Heibi se derde span met 10 - 3 koning gekraai nadat hulle rustyd met 3 - 0 voor was. Heibi se puntemakers was Trevino Gordon (senter) met 'n drie en Veandré Carelse (heelagter) wat met een straf- en 'n doelskop geslaag het.
In die wedstryd tussen die tweede spanne het Heibi met 31 - 5 geseëvier nadat hulle met 26 - 0 rustyd voorgeloop het. Hier het Heibi vyf drieë ingeryg om hulle van 'n waardevolle bonuspunt te verseker.
Puntemakers vir Heibi was Anrich Manho (regtervleuel) met twee drieë, Alcano Vollenhoven (skrumskakel) Jaco Michaels (flank) en Clarence May (stut), wat elk een drie gedruk het. Reevin February (heelagter) het drie van die drieë verdoel.
Heibi se volgende wedstryd is Saterdag 3 September tuis teen Maori's van George.
Twee weke gelede het Heidelberg vir een van die groot verrassings van die seisoen gesorg deur met 25 - 25 teen die voorloper, die magtige Crusaders van George, gelykop te speel.
Eslin Naudt druk Heidelberg se eerste drie in 'n vorige wedstryd teen Crusaders. Foto's: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'