Gallery Video
RIVERSDAL NUUSF en VIDEO - Die SWD-rugbyunie (SWDRU) het Saterdag 19 Augustus 'n geslaagde Let's Play Tagrugby by Riverville-rugbystadion aangebied.
Die hooforganiseerder van die verrigtinge was Benedictus Jantjies wat die plaaslike koördineerder en ontwikkelaar van die SWDRU is. Die verrigtinge is geopen deur Vader Noël Weeber met Skriflesing en gebed.
Nicky Juta, uitvoerende komiteelid van SWD-rugbyunie (SWDRU), het die verwelkoming behartig. Hy het genoem dat Jantjies homself baie goed van sy taak gekwyt het, want al die skole wat uitgenooi is, het opgedaag vir deelname. "Ek wil hom bedank vir die reël van die dag."
Daar was agt skole teenwoordig met 'n totaal van 22 spanne waarvan ses uit meisiespanne bestaan het. Die agt skole teenwoordig was De Waalville, Goedgegund, Melkhoutfontein, Molenrivier, Okêr, Panorama, Slangrivier en Voorwaarts Primêr. Elke skool het spanne van onderskeidelik o.9, o.11 en o.13 verteenwoordig. Vir die o.9-spanne is dieselfde dag bulletjiesrugby-wedstryde aangebied. Die o.9-span van Voorwaarts Primêr het die bulletjiesrugby gewen.
Die o.11-span van De Waalville Primêr het die tagrugby gewen en die o.13-meisiespan van Oker Primêr het met die louere weggestap.
Jantjies het sy dankbaarheid teenoor al die skoolhoofde, personeel en afrigters uitgespreek. "Ek is baie dankbaar dat hulle die dag so goed ondersteun het."
Hy bedank ook die Hessequa-munisipaliteit vir hul bydrae en kospakkies om van die dag 'n reusesukses te maak.
"Ek is dankbaar teenoor die SWDRU dat hul die vertroue in my het dat ek hierdie dag kon reël en aanbied. Ek is bly dat ek 'n bydrae kan maak tot jeugontwikkeling in ons streek."
Kyk 'n video hieronder.
VIDEO & FOTO'S: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'