GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die goed geoliede Groot-Brakrivier-rugbyklub het Heidelberg-rugbyklub Saterdag 7 Julie met 33-23 gewen.
Dit nadat Heibi 13-9 voor was. Heibi het reeds vier van 14 wedstryde verloor.
Gevaarligte flikker nou vir die gewilde Heibi soos hulle bekend is en sal hulle alles in die stryd moet werp om hul laaste vier wedstryde te wen.
Twee van dié wedstryde sal weg, teen die gedugte Crusaders en Evergreens spanne van George gespeel word.
Heibi speel komende Saterdag 14 Julie teen Crusaders, terwyl hulle in hul laaste wedstryd voor die half eindronde teen Evergreens sal kragte meet.
Henn Lin Botha, Groot-Brak se losskakel en kaptein, het binne die eerste 10 minute, eerste punte met twee strafskoppe aangeteken. Heibi het egter in die 12de minuut met 'n strafskop deur Corbin Swartbooi, heelagter, teruggeslaan waarna Botha met sy derde strafskop in die 17de minuut geslaag het.
Heibi het die voortou in die 34ste minuut geneem toe Marquit September, buitesenter, 'n drie gaan druk het wat deur Swartbooi verdoel is. In die 40ste minuut het Swartbooi weer met 'n strafskop geslaag om hulle 13-9 met rustyd voor te laat loop.
Die tuisspan het weereens in die 45ste minuut eerste punte met 'n strafskop deur Botha aangeteken.
Swartbooi kon 10 minute later weer daarin in slaag om met 'n strafskop die telling 16-13 in die besoekers se guns te maak.
Die besoekers se rotsvaste verdediging met tye, het egter die tuisspan weerhou om 'n bonuspubnt in te samel.
Grant Pockpass, plaasvervangerslot, het in die 63ste minuut 3 drieë aangeteken.
Botha het die nodige twee punte met sy skopskoen bygevoeg.
Hugh Minnies, regtervleuel, en JP de Kock, haker, het elk 'n drie gedruk wat deur Botha verdoel is. Vir Heibi was Simon du Toit, slot, wat deurgaans 'n barshou gespeel het in die laaste minuut, met 'n drie beloon. Swartbooi het met die doelskop geslaag.
Tydens die eerste wedstryd van die dag het Groot-Brak se derde span met 22-18 koning gekraai nadat hulle rustyd met 10-5 voor was.
Die puntemakers vir die wenners was Larry Meyer, senter, met twee drieë en een doelskop, terwyl Clinton Volkwyn, linkervleuel en Lian Treurnicht, losskakel, elk een drie gedruk het.
Maurice September, heelagter, Jadian September, agsteman en Leigh-Roskey Domingo, haker, het elkeen een drie vir Heibi aangeteken. Alwyn Swanepoel, senter, het met een doelskop geslaag.
Heidelberg se tweede span het egter die bordjies verhang en 'n weghol oorwinning van 48-3 behaal, nadat hulle rustyd met 15-3 voor was. Roger Williams, slot, en Laughton Peterzen, haker, het onderskeidelik drie en twee drieë gedruk, terwyl, Shirgené Swartbooi, heelagter en Carlo Williams, regtervleuel, elk een drie gedruk het.
Williams het ook met een straf en vyf doelskoppe geslaag wat die totaal op 17 gebring het. Die tuisspan se puntemaker was Limhal Buys, heelagter, wat met die enkele strafskop geslaag het.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'