Update
HEIDELBERG RUGBY NUUS - Die dorp se rugbyklub moes Saterdag 7 Maart in hul eerste ligawedstryd van die seisoen teen Barbarians van Mosselbaai met 'n gelykop uitslag tevrede wees.
Die eindtelling was agt punte elk, nadat hulle teen rustyd naelskraap met 5-0 in dié SWDRU superliga A-wedstryd voorgeloop het.
Nagenoeg 2 500 toeskouers waaronder Cynrol Saayman, bekende opvoeder en sakeman van Riversdal, het die spanne ondersteun. Saayman het 'n stel waterbottels aan die A-span geskenk. Dis net voor die afskop van die hoofwedstryd aan Julian Buis (Heibi-voorsitter) oorhandig.
Die wedstryd was ietwat teleurstellend na albei spanne se voorbereidings.
Die tuisspan het goed begin, maar kon nie die pas volhou toe sommige van die meer gesoute spelers beserings opgedoen het nie. Verkeerde keuses en hanteerfoute het hulle ten minste twee drieë gekos. Swak skopwerk pale toe het hulle ook gekniehalter.
Travino Gordon, een van talle jong spelers in die tuisspan, het die span se enigste drie in die eerste helfte aangeteken. Nuweling Berthal September het in die tweede helfte met 'n strafskop geslaag.
Vir BaaBaas het Lupho Ngxotheru al hul punte met 'n drie en 'n strafskop behaal.
Heidelberg se B- en C-spanne het ook hul wedstryde verloor. Die B-span het met 19-17 die onderspit gedelf, na hulle rustyd met 17-7 voorgeloop het.
Llewellyn Adams, Jerome Breda en Marthino Adonis het elkeen 'n drie gedruk. Danwin Thomas het twee doelskoppe bygevoeg.
Heibi se puntemakers vir die B-span was Chris Michaels en Shirgené Swartbooi wat elkeen 'n drie gedruk het. Corbin Swartbooi het met twee doelskoppe en een strafskop geslaag.
BaaBaas se C-span het gemaklik met 40-16 gewen na hulle rustyd met 19-3 voor was. Altesaam ses drieë is deur Devan Duitsjan, Brandon-Lee Gelderbloem, Keegan Fielies, Viagan Groenewald, Dominic Lombard en Jarryd Frans gedruk. Groenewald het met vier en Lombard met een doelskop geslaag.
Die Heidelbergers speel Saterdag 14 Maart tuis teen George. Die kragmetings dien ook as voorwedstryde vir SWD se wedstryd teen Westelike Provinsie.
Julian Buis (links) ontvang waterbottels vanaf Cynrol Saayman.
Lindon Hartnick, Heibi agtsteman en kaptein rank hoog vir die bal tydens ’n lynstaan.
Marcel Marais van Heibi staan reg om die bal in die skrum in te voer terwyl Morné Buis van Baabaas sake fyn dophou.
Die bal is op die punt om uitgegee te word.
Vorige artikel: Barbarians bring slegte nuus vir Heibi
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'