HESSEQUA NUUS - Rugbyliefhebbers het Saterdag 10 Februarie die geleentheid gekry om hul spanne in die eerste rugbywedstryde van die seisoen te ondersteun.
Riversdal Blues het in vriendskaplike wedstryde kragte met Seagulls van Melkhoutfontein en Stilbaai op Blues se tuisveld gemeet.
Nie eers die lastige wind kon geesdriftiges van die veld weghou nie en ondersteuners het in groot getalle die wedstryde bygewoon.
Dit was 'n welkome gesig om 'n vol paviljoen te sien, sowel as heelwat motors langs die veld waar toeskouers rustig die spel kon dophou.
Die wedstryde is meestal deur afrigters gebruik om kombinasies uit te werk en die manne die nodige wedstrydoefening te gee.
Hoewel hulle nog geroes voorgekom het, kon almal sien dat die afrigters en hul spanne reeds baie werk in die afseisoen verrig het. Vaardighede is op goeie standaard en die tempo was ook hoog.
Die skeidsregters het heelwat geelkaarte uitgedeel om die spelers terdeë bewus te maak van die reëls en sommer van die staanspoor af 'n goeie grondslag vir die standaard van dissipline daar te stel.
Blues het met hulle vinnige agterlyn gereeld gate in Seagulls se agterlyn gevind om sodoende pragtige drieë aan te teken.
Seagulls se verdediging is telkemale geklop en sal hulle ernstig aandag aan dié afdeling van die spel moet gee.
Aan die ander kant het hulle voorspelers die botoon gevoer en is Blues se skrums telkemale teruggedruk. Blues sal aan die skrumtegniek moet werk.
Beide Blues se spanne het hul wedstryde gewen en gaan 'n faktor wees sodra die ligabepalings op 10 Maart begin.
Die twee klubs speel weer Saterdag 17 Februarie in nog vriendskaplike wedstryde op Melkhoutfontein/Stilbaai sportterrein.
Die wedstryd vir die B-spanne begin om 14:00 en die A-spanne skop om 16:00 af.
Kom ondersteun julle spanne in 'n feestelike atmosfeer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'