HEIDELBERG RUGBY-NUUS - Simon du Toit, vurige slot van die A-span is as sportman van die jaar aangewys tydens Heidelberg-rugbyklub se jaarafsluiting op Saterdag 17 November in sy klubhuis.
Joe Daniëls, voormalige voorsitter van die SWD-rugbyunie het die geleentheid as gasspreker bygewoon. Julian Buis, Heibi-voorsitter het in sy bekendstelling vir Daniëls geloof vir sy ewewigtige hantering van belangrike rugbysake tydens sy termyn, asook vir sy deurlopende belangstelling in die welsyn van spesifiek Heidelberg-rugbyklub.
In sy toespraak het Daniëls die klub geloof vir sy merkwaardige toetrede vanjaar tot die Premierliga waar die klub in die vyfde plek geëindig het. Volgens hom het die klub by almal respek afgedwing met sy aanvallende rugby wat hom tot laat in die seisoen onder die eerste vier spanne geplaas het. Hy het verder benadruk dat dissipline op en van die veld ewe belangrik is.
"Spanne moet die stampe en stote op en van die veld af met hoë dissipline verwerk en soos Mohammed Ali in die 'Rumble in the Jungle'-geveg met George Foreman, takties en gedissiplineerd die woeste aanvalle trotseer om op die regte tyd die wenpunte aan te teken," het hy gesê.
Ander toekennings
- A-span: Beste agterspeler - Marchel Marais; beste voorspeler - Fernell Pretorius.
- B-span: Beste agterspeler - Shirgene Swartbooi; beste voorspeler - Johannes Kleynhans.
- C-span: Beste agterspeler - Alcaino Vollenhoven; beste voorspeler - Jaydian September.
- Beste 'comeback'-speler - Denver van Niekerk; mees belowende speler - Martin Hartnick.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'