HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 14 April hul derde agtereenvolgende tuiswedstryd in die SWDRU Premierliga met 'n bonuspunt gewen toe hulle met Crusaders van George met 27-23 afgereken het.
Die besoekers, wat spog met Dean Hopp, plaaslike gebreide stut en haker, asook voormalige SWD Arende en SA o.21 haker, het wel die tuisspan harde bene in die skrums laat kou met hul veel swaarder agttal, maar Heibi het die druk goed verwerk.
Goeie verdediging deur albei spanne was van die kenmerke van dié taai stryd.
Die tuisspan het drie geel kaarte teenoor die besoekers se een gekry, maar bewys dat hulle hul man kan staan om vir 30 minute met 14 spelers die aanslag teen hulle af te weer.
Een van die tuisspan se geel kaarte is aan die verkeerde speler toegewys. Die swak beslissings deur die skeidsregter aan beide kante het gelukkig nie tot onenigheid tussen die spelers of ondersteuners gelei nie.
Crusaders het eerste punte aangeteken toe Rico Africa in die 15de minuut die eerste van hul drie drieë aangeteken het. Henry Wolhuter het kort daarna met 'n strafskop geslaag.
Heibi het hul eerste drie deur Chris Michaels in die 23ste minuut aangeteken. Corbin Swartbooi het met die doelskop gefaal.
Mandelekosi Sam het Crusaders se tweede drie in die 34ste minuut gedruk en het hulle met 13-5 teen rustyd voorgeloop.
Die tuisspan het na lemoentyd baie druk op hul opponente geplaas deur twee drieë binne die eerste 15 minute aan te teken deur Anrich Manho en Jason Liebenberg, waarvan een deur Swartbooi verdoel is.
Freginald Africa het Crusaders se laaste drie aangeteken, wat deur Wolhuter verdoel is. Beide Wolhuter en Swartbooi het elk 'n strafskop binne een minuut van mekaar deur die pale gestuur, wat Crusaders met ses minute oor met 23-20 die voorsprong gegee het.
Simon du Toit het Heidelberg se bonuspunt drie aangeteken. Die span kan tevrede voel met hul vertoning, hoewel veral aan hul lynstane gewerk moet word. Te veel balle is op hul eie ingooi verloor.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derdespan hul eerste oorwinning vir die seisoen behaal deur die besoekers met 24-3 te klop, nadat hulle rustyd met 12-3 voorgeloop het. Puntemakers is Macdonald Marais (2x3), asook Veandré Carelse en Rudolph Rossouw (beide met 1x3). Carelse het met twee doelskoppe geslaag.
Raywin Frans van Crusaders het sy span se enigste punte met 'n strafskop aangeteken.
Heidelberg se tweede span het hul wedstryd met 36-20 verloor. Crusaders het rustyd met 15-10 voorgeloop. Hul puntemakers is Pieter Hector (3x3), asook Brendon Kabonie en Maurice Simons (beide 1x3). Cuan Belelie het met een straf- en vier doelskoppe geslaag.
Die tuisspan se punte is deur Laughton Pieterzen, Carlin Wewers en Reagan Geldenhuys met een drie elk aangeteken, terwyl Carlo Williams met een straf- en een doelskop geslaag het.
Lees 'n vorige artikel: Heibi steeds onoorwonne
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'