RUGBY NUUS - Die klubrugbyseisoen in die SWD staan nou einde se kant toe met nog twee rondes wedstryde wat afgehandel moet word voordat die uitspeelwedstryde inskop.
Heidelberg (Super A-liga), Seagulls (Eersteliga A) en Riversdal-dorp (Eersteliga Wes) lyk goed geplaas om na die uitkloprondes deur te dring.
Albertinia Rangers het 'n geringe buitekans om nog by die agterdeur in te glip, maar dan sal hy sy oorblywende twee wedstryde móét wen. Een daarvan is teen die voorloper, Seagulls.
Vir Riversdal Blues om in die topses van die Super A-liga te eindig, is dit neusie verby. Hulle speel Saterdag weg teen Blanco in die Gaatjie in George en besoekende spanne sukkel maar altyd daar om die wa deur die drif te trek.
In hul laaste oorblywende wedstryd pak hulle Progress tuis en 'n oorwinning hier kan hulle dalk na die tweede laaste plek op die puntelys laat opskuif.
Die Blues speel nou net om verlore aansien te red.
Dat hulle in hul eerste seisoen in die Superliga A sou sukkel, was seker te wagte. Jy stap nie in die topliga in met die verwagtinge dat jy die klubrugbywêreld gaan omkeer nie. Maar die ervaring wat hulle vanjaar opgedoen het, sal vorentoe handig te pas kom.
Vir Riversdal is sy hoop gevestig op die dorpspan wat tans die toon aangee in hul liga met 56 punte en Bitou tweede op 54 punte.
Riversdal speel juis Saterdag teen Bitou weg en in sy laaste wedstryd teen Arrows, wat maar vanjaar sukkel.
Heibi pak George Saterdag in 'n wegwedstryd wat hulle behoort te wen. In hul laaste kragmeting speel hulle tuis teen die voorloper, Crusaders, en dit gaan 'n grote wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’