HEIDELBERG NUUS - Daar is geen keer aan die Heibi-spanne nie.
Die koeël lê in die loop, sê die toeskouers. Die vinger is op die sneller. Die mikpunt? Die eerste vier spanne op die puntelys speel 'n uitspeelronde waar posisie een teen posisie vier speel, en twee teen drie in die halfeindronde.
Die wenners speel op 14 September op Outeniquapark in die eindronde.
Die Heibi-span lê stewig in die vierde plek op die puntelys, met die derde plek vyf punte voor hulle en die vyfde plek ses punte agter hulle. Die span het een wedstryd minder gespeel as die span agter hulle. Heidelberg behoort die oorblywende wedstryde te wen, omdat hulle in die eerste ronde dieselfde spanne gemaklik gewen het - behalwe die bulspan, Crusaders van George. Crusaders het Heibi op Heidelberg kom pak gee. Wen of verloor, die span bly in die topvier.
Toeskouers is deeglik daarvan bewus dat die span nie op volle sterkte in die laaste paar wedstryde was nie, aangesien van sy topspelers deur SWD-rugby opgeroep was. Nogtans het hulle twee weke gelede sy diepte gewys deur die kampioenspan, Progress van George naelskraap te wen.
Dinge lyk beter vorentoe. Die SWD-spelers word voor die uitspeelwedstryde beskikbaar gestel en spelers op die krukkelys, sal teen September gereed wees. So, die beker is in die visier.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'