STILBAAI NUUS - Alle oë sal Saterdag op Riversdal wees wanneer Seagulls-rugbyklub en Riversdal-rugbyklub in 'n derbykragmeting slaags raak wat beloof om die vonke behoorlik te laat spat.
Toe die twee spanne mekaar op 18 April op die Graveyard in Melkhoutfontein gepak het, het Seagulls met 'n oortuigende vertoning vorendag gekom. Die A-span het met 37 - 29 geseëvier, terwyl die B- en C-spanne ook hul wedstryde gewen het.
Drie maande later is die omstandighede egter anders. Die wedstryd word dié keer op Riversdal se tuisveld beslis, en Seagulls weet dat tuisvoordeel en derbytrots enige vorige uitslag vinnig onbelangrik kan maak.
Die besoekers behoort met selfvertroue op die veld uit te draf nadat hulle verlede naweek vir Uniondale United met 54 - 19 in Melkhoutfontein oorrompel het. Die span het met aanvallende rugby beïndruk, maar besef dat derbywedstryde dikwels deur passie, dissipline en klein oomblikke beslis word.
Ondersteuners word aangemoedig om die tog oor die N2 aan te pak om hul span te ondersteun en die Seagulls se vlerke hoog te hou. Die bus vertrek om 11:30 vanaf die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’