GEORGE NUUS - Danksy twee oudleerlinge van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), Warrick Gelant en Manie Libbok, speel die Stormers Saterdag 18 Junie in Kaapstad in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Bulle.
Tot kort voor die einde van die halfeind-stryd teen Ulster was die telling 10 - 15. Warrick Gelant het egter in die doodsnikke 'n drie gaan druk wat die uitslag gelykge-maak het.
Alles het afgehang van Libbok se doelskop. Sou hy misskop, sou ekstra speeltyd nodig wees om 'n wenner te bepaal. Libbok het egter kopgehou en die bal oorgeklits.
Piet Cloete, adjunkhoof- sport by Outeniqua, het Maandag gesê die skool is trots op Gelant en Libbok. Hy het beide spelers afgerig toe hulle by Outeniqua was.
Gelant was in 2013 in gr. 12 en Libbok in 2015. Benewens dat hulle vir die skool se eerste span gespeel het, het hulle ook vir die SA Skolespan uitgedraf. Na skool het beide ook vir die SA o.20-span uitgedraf.
Gelant en Libbok het na skool kontrakte by die Bulle gekry, maar uiteindelik vir die Stormers gaan speel.
"Vir my as oudafrigter van die twee is dit fantasties om te sien hoe hulle tot hul eie reg kom by die Stormers en dat beide 'n groot rol speel in die sukses van die Stormers se uitstekende seisoen."
Gelant het al voorheen vir die Springbokke uitgedraf en is Saterdag opgeneem in die jongste Springbok-oefengroep waaruit 'n span teen Wallis gekies gaan word. Libbok is ook ingesluit in die Blitsbokspan.
Cloete het reeds op skool gedink dat beide dit nog ver op die rugbyveld gaan bring. "Ons as skool is baie trots op hulle en wens hulle baie sterkte toe met Saterdag se eindstryd."
Warrick Gelant
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'