ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike rugbyspan, wat as die gunstelinge beskou was, het Saterdag 17 Maart byna weer aan die kortste end getrek en moes alles in die stryd plaas om Riversdal Dorp met 14-10 in 'n wegwedstryd te klop.
Riversdal se agterlyn het met pragtige agterlynbewegings twee pragdrieë in die eerste helfte aangeteken. Calvyn Kortje (kaptein), Lenesteoy Tarentaal (vleuel) en Keanan Tarentaal moes al die gate toestop om die tuisspan in toom te hou.
Die Riversdallers het alles gedoen wat van hulle verwag was en by die basiese dinge gehou. Hulle ondersteuners was telkens op hulle voete wanneer die Dal-spelers die bal omkeer en die bal wyd speel.
Die senter, Jacobus Esau, was by tye gevaarlik in die middelveld. Ricardo Goliat en Frederick Pietersen het die tuisspan se punte met 'n drie elk op die telbord gesit.
Die twee Tarentaals het elk 'n drie vir hul span gedruk wat deur Keanan verdoel is, terwyl Kortjé 'n reusetaak op die verdediging gehad het.
Rangers kan hulself gelukkig ag vir die vorentoe aangee van Riversdal in die laaste twee minute van die wedstryd.
Laasgenoemde se afrigters het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hulle nie teleurgesteld is oor die uitslag nie, omdat hulle die beste rugby gespeel het teen 'n span soos Rangers.
Een van die spelers het genoem dat hulle baie kanse verspeel het om drieë te druk, maar hulle kop verloor het.
Rangers se B-span het hulle opponente oortuigend met 33-0 geklop. Die heelagter, Abraham September, het twee drieë gedruk en altesaam 20 punte vir sy span aangeteken.
Hy is as speler van die wedstryd aangewys.
ARTIKEL & FOTO: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'