RUGBY NUUS - Ondanks verbete weerstand, kon die plaaslike Barbarians rugbyspan die afgelope Saterdag op D'Almeida Park net nie die knoop deurhak teen die Crusaders van George nie.
Die besoekers het gewys waarom hulle die Suidwestelike Distrikte (SWD) se klubkampioen is en het die Babaas met 24-14 geklop.
Met die nederlaag het die Barbarians hul verpligtinge in die eerste ronde van die klubkompetisie voltooi en 'n opdraande stryd wag op die Mosselbaaiers wanneer die tweede ronde oor twee weke teen Riversdal se Blues afskop. Die Babaas het dié naweek 'n loslootjie.
Teen die Crusaders het die Babaas in die vaste fasette goeie rekenskap van hulself gegee, maar dit was op die dek- en kruisverdediging waar sake skeef geloop het. As hulle enigsins hul kanse lewendig wil hou om die halfeindrondes te haal, is dit twee aspekte van die spel waaraan baie aandag gegee sal moet word.
Crusaders daarenteen lyk of hulle met gemak weer kan begin stem dik maak om hul klubtitel te verdedig.
Vir die Babaas se tweede en derde spanne het sake darem heelwat beter verloop. Hulle het hul opponente met 32-29 en 18-13 onderskeidelik met die kouse oor die kop huistoe gestuur en beklee dus steeds die voorste posisies op die punteleer vir die laer ligas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’