HEIDELBERG NUUS - Bekerglorie en die nuut verworwe status as die SWD se voorste rugbyklub wink vir Heidelberg as hy Groot-Brakrivier Saterdagmiddag op Outeniquapark in George in die eindstryd van die Super A-liga aandurf.
Dis die tweede agtereen-volgende jaar wat Heidelberg na die eindstryd deurdring. Verlede jaar het hy op die einste Outeniquapark met 25 - 13 teen Crusaders vasgeval. Die Crusaders is verlede Saterdag verrassend deur Groot-Brak uitgeskakel.
Heibi het deurgedring deur Evergreens, ook 'n groot gunsteling, in die 'Graveyard' in Pacaltsdorp met 18 - 13 te klop.
Nou's dit die oomblik van waarheid wat vir albei spanne aangebreek het. Die rugbysluise van geluk sal vir die wenner oopgetrek word - en natuurlik 'n vet wentjek, daai gesogte Super A-beker, die kampioenskapstitel en die gepaardgaande gespoggery vir die 2024-seisoen.
Die verloorspan kry weliswaar 'n kleiner tjekkie, maar stap weg met die titel "probeer maar weer."
Op grond van hul spelpeil die afgelope paar wedstryde reken SWD se klubrugbykenners Groot-Brak is met 'n kortkop die gunsteling om die wentrofee omhoog te hou.
"Dit pas ons," sê Johan Erasmus, hoofafrigter van Heidelberg. "Dis in 'n mate minder druk op 'n span as jy as naasgunsteling op die veld draf, maar terselfdertyd motiveer dit jou om die teendeel te bewys en watter beter manier as met 'n oorwinning."
Groot-Brak gaan weer swaar leun op sy monster agttal om voorlangs sag te maak en dan met sy agterlyn die gapings aan te val. "Ons sal 'n teenvoeter vir hul swaar pak voorspelers moet vind, anders gaan ons sukkel om 'n impak te maak," was Erasmus se opsomming.
Maar Heibi, met sy besielende kaptein, Lyndon Hartnick, soos gebruiklik aan die voorpunt, sal nie maklik omgerol word nie. En Outeniquapark is mos bekende terrein vir hom waar hy in sy speeldae vir die SWD al uitgemunt het.
Hier kom 'n bulstryd tussen twee kolosse. Afskoptyd is om 16:00 (dalk nader aan 16:30).
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’