HEIDELBERG NUUS - Die blou golf van Progress-rugbyklub van George het Heidelberg-rugbyklub (Heibi) Saterdag 13 Junie soos 'n tsunami getref en die besoekers met 42 - 27 getroef in hul SWD-rugbyunie Superliga A-wedstryd.
Hoewel Progress rustyd net-net met 21 - 17 voorgeloop het, het die tuisspan in die tweede helfte sterker vertoon en uiteindelik met 15 punte geseëvier.
Progress het ses drieë teenoor Heibi se drie aangeteken. Die ervare linkervleuel, Clint Wagman, en losskakel Eric Zana was die groot uitblinkers en het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Heibi het die wedstryd op 'n indrukwekkende wyse begin en was reeds binne die tweede minuut met 7 - 0 voor. Die besoekers het aanvanklik die tempo bepaal, maar Progress het hulself terug in die wedstryd gewerk en gewys waarom hulle as een van die sterk spanne in die kompetisie gereken word.
Die tuisspan se prestasie was des te meer merkwaardig omdat hulle vir bykans 60 minute met 14 man moes klaarkom nadat 'n stut met 'n rooi kaart van die veld gestuur is vir 'n gevaarlike hoogvat.
Ten spyte van die numeriese nadeel het Progress nie teruggestaan nie en hul ondersteuners met aanvallende rugby beloon.
Dit was egter 'n somber dag vir Heibi se lojale ondersteuners, aangesien die klub se tweede en derde spanne ook nie daarin kon slaag om oorwinnings te behaal nie.
Die tweede span het met 24 - 27 vasgeval, terwyl die derde span met 10 - 26 verloor het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’