HEIDELBERG NUUIS - Heidelberg-rugbyklub is Saterdag, 6 Junie, lelik ontnugter toe 'n vasberade Blanco-rugbyklub, wat tot dusver nie die beste seisoen beleef het nie, hulle tot die bitter einde onder druk gehou het.
Heibi het uiteindelik die wedstryd met 20 - 17 gewen nadat die spanne teen rustyd nog gelykop was op 10 punte elk. Dit was Heibi se tweedelaaste wedstryd van die eerste rondte van die kompetisie .
Beide spanne het van die afskop af alles in die stryd gewerp in 'n klipharde, maar aantreklike wedstryd waarin daar min ruimte vir foute was. Die verdediging aan weerskante was uitstekend en het daartoe gelei dat elke span net twee drieë kon aanteken.
Die wedstryd het egter op 'n omstrede noot geëindig toe die skeidsregter die eindfluitjie blaas met die spanning tussen spelers wat hoog geloop het. Humeure het aan beide kante geflikker, maar koeler koppe het uiteindelik geseëvier.
Die tweedespan het ook 'n taai stryd beleef voordat hulle met 19 - 15 gewen het nadat hulle rustyd met 12 - 0 voorgeloop het. Die derdespan het op hul beurt met 13 - 10 geseëvier nadat die rustydtelling 7 - 7 was.
Heidelberg staan nou voor een van hul grootste uitdagings van die seisoen wanneer hulle Saterdag na George reis om teen Progress-rugbyklub te speel. Met Progress wat bekend is as een van die sterkste spanne op hul tuisveld, sal Heibi op alle silinders moet vuur om nog 'n belangrike oorwinning te behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’