ALBERTINIA RUGBY NUUS - Die Rangers-rugbyklub het Saterdag 28 Februarie tydens 'n vriendskaplike wedstryd teen Barbarians van Mosselbaai lelik vasgeval.
Talle toeskouers het kom kyk hoe Rangers teen 'n span soos die Baabaas vorder en het elke oomblik van die voorbereidingswedstryd geniet.
Die Barbarians, wat in die SWD Premierliga teen sterker spanne meeding, het gewys hulle is gereed vir die 2020 seisoen. Al het Rangers nie 'n kat se kans gestaan om te wen nie, het hulle op hul beurt bewys dat hulle bra moeilik in hul eie liga teen spanne soos Seagulls en Riversdal Blues geklop gaan word.
Die A-span het hul man in die skrums gestaan, terwyl die agterlyn min hardloopkans gekry het. Wanneer hulle wel op spoed was, moes Barbarians bontstaan om te keer.
Rangers se B-span het ook hul wedstryd verloor, maar die C-span het, net soos die Albertinia-vrouespan, gewen.
Rangers se afrigters en bestuur was tevrede met hul spel en sien uit na die seisoen wat op 7 Maart begin.
Charlton Pietersen van Rangers laat loop met die bal. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'