Update
HEIDELBERG RUGBY NUUS - Arrows-rugbyklub het Saterdag 27 Augustus in hulle voorlaaste wegwedstryd teen Young Roses van Pacaltsdorp net-net daarin geslaag om die tuisspan met 20-16 te wen.
Die rustydtelling in die SWDRU Eersteliga-Wes wedstryd was gelykop met 10 elk.
Uitstekende verdediging deur Young Roses het gesorg dat die uitslag van die werdstryd tot in die doodsnikke in die weegskaal was.
Arrows bevind hulle in ’n gunstige posisie om ’n tuis halfeindstryd op Saterdag 17 September aan te bied, met die eindstryd wat die daaropvolgende week op Outeniqua Park aangebied word.
Vir Arrows het Jo-Hansen Jacobs (regtervleuel) twee keer gaan druk, met Alistair Lotz (linkervleuel) wat een drie gedruk het. John Michaels (skrumskakel) het die ander punte met een straf- en een doelskop aangeteken.
In die eerste wedstryd tussen die B-spanne het die tuisspan naelskraap met 23-20 uit die stryd getree, nadat hulle met die telling op 8-5 in hul guns gedraai het.
Arrows se puntemakers was Luchen Boezak (losskakel) en Taswill Louw (slot) wat elkeen 'n drie gedruk het. Franco Booysen (skrumskakel) het met twee strafskoppe geslaag, terwyl Breyton Davids die twee drieë verdoel het.
Young Roses se puntemakers was nie beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'