Update
ALBERTINIA RUGBYNUUS - Albertinia Rangers het Saterdag 9 Julie verras toe hy die voorloper, Knysna, op sy tuisveld met 16 - 12 gewen het.
Knysna het Rangers van die afskop af gewys waarom hulle steeds die pas aangee in die Superliga B-klubkompetisie.
Sy voorspelers het 'n groot gedeelte van die wedstryd oorheers en Rangers moes hul storie ken om al die gate toe te stop. Rangers het egter koelkop gebly en stewig verdedig.
Die tuisspan se lynstane en verdediging was onder die vergrootglas, veral wanneer hulle onder druk was. Rangers se haker kon net nie sy springers vind nie en verskeie skewe ingooie het sake bemoeilik.
Dit het gemaak dat Knysna hul foute uitgebuit en hulle onder druk plaas het. Die rustydtelling was 6 - 5 in die guns van Rangers en die afrigters moes hard praat met hulle spelers om hulself reg te ruk.
Rangers se agterlyn het in die tweede helfte daarin geslaag om vir Abraham September (vleuel) in die hoek oor te stuur vir hul eerste drie. Maar Knysna het daarin geslaag om die wedstryd in hulle guns te draai tot in die laaste vyf minute van die wedstryd toe hulle gaan druk het om met 12 - 11 voor te loop.
Die tuisskare was stil tot die laaste paar sekondes van die wedstryd, maar toe het Rangers met sy agterlyn toegeslaan om die wenpunte aan te teken.
'n Perfekte skoppie van die Rangers-vleuel, Enlin Smith binneveld toe, het gemaak dat die losskakel, Keanen Tarentaal, die bal opgepik en deurgehardloop het om die wendrie te druk.
Rangers se B-span is steeds onoorwonne en het Knysna met 26 - 0 geklop.
Puntemakers vir Rangers A: Drieë deur Abraham September (1) en Keanen Tarentaal (1) en twee strafskoppe deur Keanen Tarentaal.
Malcolm Joseph storm met mening met die bal.
Vorige artikel: Albertinia Rangers klop Knysna
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'