ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike rugbyklub van Albertinia het die naweek op eie bodem teen Prins Albert gespeel en die wedstryd gemaklik met 70-8 gewen.
Die Albertinia Rangers het nie gras onder hulle voete laat groei nie en die drieë behoorlik ingeryg.
Rangers het met rustyd reeds met 22-3 voorgeloop. Die besoekers het by tye gevaarlik gelyk maar die tuisspan het geen genade getoon nie.
In die tweede helfte was dit soos eenrigting verkeer, want die tuisspan het aanhoudend onder die dwarslat gaan kuier en altesaam 12 drieë in die wedstryd gedruk.
Vyf van die drieë is verdoel waarvan die besoekers net een kon aanteken. Rangers se heelagter, Jonathan Matiso was briljant in die agterlyn en het aanmekaar deur die opponente se verdediging gebreek. Dit het hom drie pragtige drieë besorg.
Abraham September, wat self 'n goeie dag gehad het, het ses keer agter die doellyn gaan kuier. Die skopwerk is waargeneem deur Angelo Uithaler en Keanen Tarentaal, die losskakel.
Die B-span van Albertinia het ook 'n goeie wedstryd gehad en met 54-12 gewen. Hulle het agt drieë gedruk.
Rangers speel Saterdag 9 April teen Seagulls van Melkhoutsfontein. En hier kan 'n groot skare verwag word.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'