STILBAAI NUUS - Albertinia Rangers het Saterdag met net een doel voor oë na Melkhoutfontein gereis - om te wen - en die besoekers het daarin geslaag om Seagulls in albei wedstryde te klop.
In die B-span wedstryd moes Seagulls eerste die knie buig en het Albertinia met 25 - 5 geseëvier.
Albertinia se swaar voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê en hul oorheersing het die agterspelers die geleentheid gegee om hul vaardighede ten toon te stel.
Seagulls was in die eerste helfte nog sterk in die prentjie, met Albertinia wat met 7 - 5 voorgeloop het met rustyd. Die tweede helfte het egter aan die besoekers behoort en hulle het uiteindelik met 25 - 5 gewen.
Seragulls se enigste punte het gekom van 'n drie deur die linkervleuel, Angelo Saayman.
In die hoofwedstryd moes Seagulls ook die knie buig toe Albertinia met 26 - 20 gewen het. Die spanne was met rustyd steeds gelykop op 10 - 10.
Die twee voorspelerspakke het mekaar goed opgeweeg, maar Albertinia se agterspelers het hul geleenthede beter benut en tot die einde hard geveg om die oorwinning te verseker.
Seagulls se punte het gekom van die twee vleuels, Donavan Verwey en Owen Pietersen, terwyl Ashwin Botha 'n doelskop en twee strafskoppe bygedra het.
Saterdag se laaste ligawedstryd is nou van groot belang vir Seagulls se vooruitsigte om 'n tuishalfeindstryd te verseker. Hulle reis na Prins Albert en sal hierdie week veral aandag aan hul afronding moet gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’