STILBAAI NUUS - Die Wêreld Pluimbalvereniging het in 2012 die Shuttle Time-program geloods om die beginsel dat alle kinders 'n gesonde en aktiewe lewe behoort te lei, te ondersteun.
Hulle doelwit is om pluimbal een van die wêreld se mees populêre en toeganklike skoolsport te maak. Daar is reeds 140 lande waarin hierdie program suksesvol geïmplimenteer word.
'n Wonderlike geleentheid doen hom voor vir enige persoon in die Hessequa-streek wat hom- of haarself as 'n pluimbalafrigter wil kwalifiseer. Die Eden Pluimbalfederasie bied 'n Shuttle Time-werkswinkel in Stilbaai-gemeenskapsaal op Saterdag, 19 Februarie tussen 08:00 - 16:00 aan.
"SA afrigters word ingevoer om voornemende afrigters op te lei," sê Ursula van Huyssteen van Stilbaai-pluimbal.
Belangstellendes word gevra om hul plek voor 16 Februarie te bespreek om deel van hierdie geleentheid te wees.
Omdat pluimbal 'n lekker en vinnige kompeterende sportsoort is wat as individu én in spanverband beoefen kan word, is dit perfek om as skoolsport afgerig te word.
Dit hou boonop heelwat gesondheidsvoordele, soos stresverligting, verhoogde fiksheid en bevordering van longkapasiteit, hartfunksie en bloedsirkulasie.
Pluimbal word ook binnenshuis gespeel en word dus nie deur die weer beïnvloed nie. Eden Pluimbal is 'n jong federasie wat daarop fokus om die sport te groei en ontwikkel onder alle ouderdomsgroepe in die streek.
Skole het die geleentheid om hulle spanne gedurende die jaar kompeterend op interdorp, provinsiale en later nasionale vlak te laat deelneem.
Kontak Ursula van Huyssteen (084 503 8481) om jou plek te bespreek of vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'