SPORTNUUS - Omtrent alles in sport het verander, ook vir ondersteuners wat dié naweek 'n paar verstellings moet maak om na die aksie op televisie te kyk.
Die tennis in Amerika, die Tour de France, rugby, sokker en motorsport word steeds regstreeks uitgesaai, maar nie almal op die ou bekende plekke nie.
Die voorheen genommerde kanale het nou nuwe name wat dit vir kykers makliker behoort te maak om op hul gunstelingvermaak in te skakel.
Al die sport word van DStv-kanaal 200 tot op 219 aangebied, met inbegrip van ESPN se uitsoekdekking.
Elkeen van die vernaamste sportsoorte het van nou af 'n vaste tuiste op 'n bepaalde kanaal.
Daarby word die dag se belangrikste gebeurtenis gedek op 'n kanaal wat SuperSport Grandstand genoem word. Kleiner sportsoorte sonder 'n vaste tuiste word uitgesaai op kanale wat verskeidenheid genoem word.
Omdat die oorskakeling 'n ingewikkelde proses behels, was die besonderhede van dié naweek die uitsendings op elke kanaal teen druktyd nog nie bekend nie.
Van die opwindendste sport wat kykers wel sal sien deur die aanwysings op die skerm te volg, is die Amerikaanse Ope-tennis in New York, die PGA-gholf in Atlanta, rugby in Australië, sokker in Suid-Afrika en Europa, die Tour de France en die Italiaanse Grand Prix.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'