STILBAAI NUUS - Vakansiegangers, plaaslike bergfietsryers en besoekers kon hulself behoorlik verlustig aan die mooi natuur en boonop hulself toets tydens die jaarlikse Windpompsjerrie-bergfietsuitdaging wat op 23 Desember plaasgevind het.
Die ren word jaarliks deur Jan Heenop van iALA gereël en ongeveer 244 ryers het aan die 50 km- en 100 km-roetes deelgeneem wat by Lappiesbaai-strand in die ooste begin en by die plaas Jongensdal op die Blombospad naby Jongensfontein geëindig het.
Die 50 km-roete was relatief maklik, terwyl die 100 km-roete ideaal was vir die meer ervare ryers wat 'n groter uitdaging gesoek het.
By die eindpunt het 'n gesellige atmosfeer onder die groot bome geheers met stalletjies, kindervermaak en heelwat versnaperinge om te geniet.
Die 100 km is gewen deur die bekende fietsryer Erik Kleynhans, met 'n tyd van 3:55,08.
Van links is Danielle Barnard, George Ducharme wat die 50 km-ren gewen het en Hano du Plessis by die beginpunt van die ren by Lappiesbaai.
Tweede in die mansafdeling was Henri Meyer (4:09,36) met Jakobus Wagner derde (4:14,13).
Die eerste dame tuis was Jozanne Louw (5:04,12) met Christilee Jansen tweede (5:20,35) en Junita Kruger derde (5:33,57).
George Ducharme was die 50 km-wenner met 'n tyd van 1:59,06 gevolg deur Pieter G. de Kock (2:03,48) en Leon Claassen (2:04,00).
Lees 'n verwante artikel: Kleynhans laat die speke sing
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'