TUINROETE NUUS - Die 55ste Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe, aangebied deur Helderberg-toutrekklub, het die afgelope naweek met groot sukses verloop.
Altesaam 126 spanne uit sewe provinsies het aan die kampioenskappe deelgeneem.
Verskeie van Eden-toutrek se spanne was ook daar en het puik vertonings in beide die president- en premier-afdeling opgelewer.
Premier-afdelinguitslae
Twee spanne, die 540 kg vroue en 560 kg junior A-span, het met goue medaljes weggestap. Die 500 kg vroue, 680 kg mans A en 580 kg gemengde A-span het silwer behaal, en die 560 kg junior B-span brons.
President-afdelinguitslae (ontwikkeling)
Hier het Eden ook twee goue medaljes ingepalm, een deur die 600 kg mans A-span en die ander deur die 580 kg gemengde B-span. Die 680 kg mans se C-span het silwer gewen. Dan was daar ook vier bronsmedaljes vir die volgende spanne: 600 kg mans B, 680 kg mans B, 580 kg gemeng C en 560 kg gemeng (o. 23) A.
Verskeie Eden-atlete is ná afloop van die kampioenskappe vir die Suid-Afrikaanse nasionale spanne gekies. Hulle begin nou met voorbereiding vir die Wêreldtoutrekkampioenskappe wat van 17 tot 19 September in Hartenbos aangebied word.
Eden-toutrek moedig die publiek aan om hierdie wêreldklasbyeenkoms by te woon. Kaartjies is op Webtickets beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’