SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se 28ste algemene jaarvergadering en bestuursverkiesing het verlede Saterdag by die Emmaüs-sentrum in George plaasgevind.
Tydens die jaarvergadering is 'n nuwe bestuur gekies wat die leisels gedurende 2020 moet hou en sorg dat die vereniging van krag tot krag gaan. Louis Welman is verkies tot president en Wynand Fourie as voorsitter. Johan Potgieter het uitgetree en word bedank vir sy waardevolle bydrae tot die natuurbewaringsportefeulje. Ferdinand Boll is as nuwe bestuurslid verkies.
Verskeie toekennings is ook tydens die geleentheid gemaak.
Die wenners was:
Jacques du Plooy (beste skut: skietdae), Leras van Zyl (beste junior skut: skietdae), Quintus Lotter (beste student: Chasa-kursus), Tiaan Gerber (beste bosbok en meeste punte: trofeemeting) en Jozua Malherbe (beste trofee: trofeemeting).
Borge soos Wildman, SSK, Klein Karoo Agri, ATKV, Bay Guns, Kloppers en verskeie privaat donateurs is ook bedank vir hulle aandeel tot die sukses van SJB se aktiwiteite. John Fitzgerald het 'n presidentstoekenning ontvang vir sy onbaatsugtige diens aan die vereniging.
John se betrokkenheid strek oor die hele spektrum van die vereniging se aktiwiteite. Hy is betrokke by die CHASA-kursusse waar hy help kos maak, bane opstel en weer by die opruim van die bane.
Die ywer waarmee hy homself beskikbaar stel om diens te doen wanneer bane opgestel moet word en as baanoffisier diens te doen, strek voorwaar as voorbeeld vir baie ander.
Van links: Ferdinand Boll, Reenen Potgieter, Fermi Meyer, Natie Fourie, Jannie Swanepoel en Christo Engelbrecht. Voor: George Butler, Flip Coetzee, Wynand Fourie, Louis Welman en Len Nel. Afwesig: Niaan Fourie, Mias Fourie, Frans Viviers en Joseph Steyn.
SJB se bestuur wil ook van die geleentheid gebruik maak om sy lede, asook nie-lede, uit te nooi om in te skryf vir die jaarlikse ghong-uitdaging wat op 16 November naby De Rust gaan plaasvind.
Die kompetisie gaan in spanverband aangebied word en elke span bestaan uit vier skuts. Daar gaan verskeie pryse en gelukstrekkings wees.
Alle deelnemers het 'n gulde kans om 'n heerlike dag in die natuur deur te bring en dalk 'n goeie prys los te slaan met die gelukstrekking. Vir meer inligting oor skietdae en kursusse kan die SJB-kantoor gekontak word by 044 695 2319 of besoek die webtuiste www.suidkaapjagters.co.za of stuur 'n e-pos na info@suidkaapjagters.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'