Update
STILBAAI NUUS - Dit was 'n droom wat vir Stilbaai-toerisme waar geword het toe die tweede buiteluggimnasium Vrydag, 10 Desember deur die onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Tinus van den Berg, amptelik geopen is.
In sy verwelkoming het Dries de Beer, voorsitter van Stilbaai-toerisme gesê dat die projek vir drie jaar in die beplanningsfase was, maar dat die pandemie dit heeltyd gepootjie het.
Stilbaai-sakekamer en Annerise Wolmarans, kantoorbestuurder van die toerismeburo het egter verseker dat die projek 'n werklikheid word.
Die eerste gimnasium is in Stilbaai-Wes langs die riviermond, en die tweede een is op die grasperk by Lappiesbaai opgerig. Die munisipaliteit het die grond beskikbaar gestel en borge het die R73 000 voorsien wat nodig vir die oprigting van die toerusting was. Die instandhouding sal deur die sakekamer en toerismeburo gedoen word.
Van den Berg het in sy toespraak gesê dat projekte soos hierdie vir Stilbaai laat uitstaan. Dit onderskei dié kusdorp van ander dorpe en hy het die gemeenskap bedank vir hoe hulle help om die dorp op te hef.
"Stilbaai die enigste dorp in die Hessequa-streek met 'n toerismekantoor en hulle kwyt hul uitstekend van hulle taak."
Hy het ook die borge, wie se name op 'n bord by die gimnasium aangebring is, bedank en het gevra dat die gemeenskap hierdie borge ondersteun.
Met die toevoeging van die buiteluggimnasium is Stilbaai een van die leiers op die gebied van gratis fiksheidgeriewe in die Tuinroete. Dit is 24 uur per dag vir alle inwoners en vakansiegangers beskikbaar.
Raadslid Tinus van den Berg knip die lint, bygestaan deur Annerise Wolmarans, Dries de Beer, Rachel Wall (voorsitter: Stilbaai-sakekamer) en Rennie Davids (wykraadslid: Hessequa-munisipaliteit). Foto's: Johan Victor
Stéphan Pieterse van Somerset-Wes toets een van die apparate terwyl sy dogtertjie, Simone toekyk.
Vorige artikel: 'n Tweede buiteluggimnasium vir Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'