Gallery Update
STILBAAI SPORTNUUS - Regardt van Nieuwenhuizen (23), wat reeds vir meer as 20 jaar gereeld saam met sy familie in Stilbaai vakansie hou, was die eerste motorfietsryer om die Stilbaai Funduro te voltooi.
Die Funduro, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar aangebied is het Saterdag, 14 November net buite Stilbaai plaasgevind.
Die byeenkoms het 180 motorfietsryers vanuit alle oorde gelok wat die 90 kilometer-sirkelroete in die omgewing aangepak het.
Funduros is nie 'n veldren nie, maar is byeenkomste waar ryers met hul veldrenmotorfietse op 'n gemerkte roete in die veld ry.
Na die deelnemers die nodige administrasie afgehandel het, het ryers om 10:00 by The Stables begin en die roete verby die vliegveld, Melkhoutfontein en die Botterkloof-gebied oor verskeie privaatplase gevolg tot hulle ongeveer 50km later by Putstop op Droëvlakte aangekom.
Fotogalery: 2020 Stilbaai Funduro
Hier kon hulle brandstof ingooi en hulself ook van die nodige lafenisse voorsien. Daarna het hulle die laaste 40km weer tot by die eindpunt by The Stables aangepak waar diegene wat die hele roete voltooi het, 'n unieke medalje ontvang het.
Van Nieuwenhuizen het vroeër op nasionale vlak aan veldrenne deelgeneem en het onder andere ook verskeie kere die uitmergelende Dak van Afrika-ren in Lesotho voltooi. Hy het die afstand in twee ure en 20 minute afgelê.
Verskeie dames het ook die roete aangepak en voltooi, asook motorfietsryers vanuit die Hessequa-streek.
Volgens die deelnemers was dit een van die beste georganiseerde 'funduros'. Hulle was vol lof vir onder meer Hendrik Visser, hooforganiseerder wie se idee dit aanvanklik was om 'n funduro in Stilbaai aan te bied, asook Adolf Botes, wat jare lank veldrenmotorfietsbyeenkomste georganiseer het.
Die roete het oor 28 privaatplase gestrek en wat Stilbaai Funduro so besonders maak, is dat die roete slegs tydens dié byeenkoms gery mag word en ryers dus dele van die omgewing ervaar wat andersins ontoeganklik is.
Volgens Visser is hulle dankbaar vir die uitstekende samewerking en ondersteuning van die gemeenskap wat daartoe bygedra het dat dié geleentheid 'n reuse-sukses was. Hulle bedank veral die grondeienaars wat hul eiendom oopgestel het en is ook dankbaar dat daar geen ernstige beserings was nie.
Ryers kon hul motorfietse na die tyd gratis by 'n Husqvarna-agentskap op Albertinia laat was, terwyl 'n gelukkige deelnemer 'n hoëdrukspuit van hulle gewen het.
Die organiseerders bedank Hessequa-munisipaliteit, asook ander plaaslike borge wat die geleentheid moontlik gemaak het.
Daar word beplan om die Stilbaai Funduro volgende jaar weer gedurende November aan te bied.
Hendrik Visser, Regardt van Nieuwenhuizen en Adolf Botes.
Motorfietsryers maak gereed om weg te spring.
Vorige artikel: Besoeker maak korte mette van Funduro
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'