SUID-KAAP NUUS - Elke jaar vereer die Departement van Kultuursake & Sport (DKES), in samewerking met die distriksportrade, legendes in sport wat oor die jare ‘n werklike verskil in die sport en hulle gemeenskap gemaak het.
Daar is al heelwat sportlegendes wat in Eden (SWD) vereer is – sommige nog met ons en sommige wat ons al verlaat het. ‘n Groot uitdaging lê daarin dat die besture van die sportfederasies baie verjong het en dat baie van die legendes nie aan hulle bekend is nie.
Dit is daarom dat die Eden-sportraad graag die publiek se hulp wil inroep om hierdie legendes op te spoor.
Wat is die kriteria?
• Persone wat ‘n meetbare bydrae tot sport gemaak het.
• Persone wat as ikone in hulle gemeenskappe beskou word.
• Persone wat sonder om terug te hou, hulle alles vir sport gegee het.
• Persone wat ‘n beduidende rol gespeel het om sport voor 1992 rigting te gee.
• ‘n Leeftyd van diens aan sy/haar sportkode in die algemeen gegee het.
• Genomineerde persone moet ouer as 55 wees.
• Hulle moet verkieslik afgetree wees, behalwe in uitstaande gevalle waar die omstandighede vanself spreek.
• “Een keer ‘n legende, altyd ‘n legende”, dus kan legendes net een keer vereer word.
Alle sportsoorte asook die onderwysberoep kan genomineer word vanjaar. Die sluitingsdatum is 18 Augustus 2017 en alle nominasies moet deur die betrokke sportfederasies ondersteun word. Die publiek kan ook voorstelle aan die Eden-sportraad doen wat dan oorweeg sal word. Nominasievorms kan ook van sportcouncil.eden@gmail.com aangevra word.
As u van so ‘n legende weet, kontak sportcouncil.eden@gmail.com met die volgende inligting:
• Sportkode
• Naam en van
• Ouderdom
• Woonadres
• Tel/Selnommer
• E-posadres
• Kort beskrywing van die person se prestasies en betrokkenheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'