SUID-KAAP NUUS - Icosa het in 'n persverklaring aan Suid-Kaap Forum hul ongelukkigheid uitgespreek oor die bekendstelling van die SWD-skolerugbyspanne, wat volgens hulle almal kwotaspanne is, omdat dit nie op meriete gekies is nie.
"Die bekendstelling van die SWD-skolerugbyspanne het absoluut bekragtig dat skoolassosiasie weereens die mees bepalendste faktor was ten tye van die samestelling," het Dawid Kamfer, Wes-Kaapse voorsitter van Icosa gesê. Volgens hom is daar in elkeen van die spanne, kinders wat nie daar hoort nie. "Hoe is dit moontlik dat kinders van Sao Bras, Môrester, Bridgton, Hillcrest, George High, Pacaltsdorp Hoër en Parkdene nie in spanne is nie, behalwe vir enkeles wat die bank moet warm sit?"
Die persverklaring lui voorts dat, na deeglike analise die afgelope week oor SWD se skolespanne die laaste 10 jaar, Icosa bevind het dat minder as 6% van die kinders wat in Cravenweekspanne gekies word, dit op die ou einde na professionele rugby maak. "Die vraag wat ons almal moet vra, is hoekom? Ons gaan nie langer agteroor sit en toesien hoe ons eie leiers, ons eie kinders se drome verkrag nie. "
Volgens Kamfer moes die SWD-president, Hennie Baartman, al die partye bymekaar geroep het om die spanne af te teken en nie slegs na 'n vergadering met die skoleverteenwoordigers nie. Hy is van mening dat Baartman die agtergeblewe skole gefaal het.
"Icosa Wes-Kaap het tot die slotsom gekom om 'n afvaardiging te stuur om met alle rolspelers binne SWD-rugby dringend te vergader.
In die toekoms sal ons as party 'n afvaardiging na alle proewe stuur om te verseker dat ons kinders nie verder benadeel word nie." (Brief verkort - Redaksie).
Kommentaar deur Hennie Baartman
'n Afvaardiging van die SWD-bestuur en afrigterspan het Maandag 14 Mei met die bestuur, afrigters en keurders van bogenoemde spanne vergader. Na 'n deeglike konsultasie met die rolspelers is slegs een verandering aan die Grant Khomo o. 16-span gemaak.
Die buitesenter Jujade Coeries van Outeniqua is weggelaat aangesien hy nie aan die finale proewe weens siekte deelgeneem het nie. Die res van die spanne bly egter onveranderd aangesien dit tydens die vergadering uitgekom het dat geen speler tydens die proewe benadeel is nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'