STILBAAI NUUS - Die Riversdaller Leon Adams, wen vir die tweede agtereenvolgende jaar die 2017 NSRI 10 km-wedloop in 'n tyd van 37 minuut 28 sekondes wat op Oujaarsdag, 31 Desember in dié kusdorp aangebied is.
Elmarie Goodchild, 'n vakansieganger van Bloemfontein wat ook tydens die vorige byeenkoms gewen het, het weer met die louere as die eerste vrou weggestap. Haar tyd was 46 minute 32 sekondes.
'n Rekord aantal inskrywings is vir die wedloop ontvang met ongeveer 1 200 deelnemers wat die roete op 'n sonnige dag aangepak het. Dit was die 11de keer dat die wedloop aangebied is as Stasie 31 se grootste fondsinsamelingsprojek. Nico Steenekamp, self 'n kranige atleet van Rustenburg het, soos die afgelope 10 jaar weer die wedloop gereël, die roete uitgelê en sommer ook self deelgeneem.
Adams was heel gemaklik, hoewel hy die vorige dag aan twee 10 km-wedlope deelgeneem en gewen het, wat sy oorwinning hier 'n driekuns maak binne 'n kwessie van 24 uur.
Ander wenners sluit in Steenekamp (groot meester mans); Styntjie Prins (groot meester dames); Tommy Hanekom (meester mans); Tereta Lourens (meester dames); Adam Clark (veteraan mans); Ursula Turck (veteraan dames); Isabelle du Plessis (junior dames) en Ruben Viljoen (junior mans). Die wedloop het by die NSRI by die hawe begin en geëindig en deelnemers kon hulle verlustig aan die natuurskoon met die roete wat hulle onder andere op wandelroetes geneem het.
Die stasiebevelvoerder, Arrie Combrinck, het die deelnemers vir hul ondersteuning bedank, asook vir die organiseerders en borge wat dié jaarlikse byeenkoms moontlik gemaak het. Al die deelnemers wat die ren voltooi het, het 'n medalje gekry.
Die uitslae en foto's sal beskikbaar wees op www.stilbaai10km.com.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'