RIVERSDAL NETBALNUUS - Lefébre Rademan, oud-leerder van Hoërskool Langenhoven is onlangs met die Members Player of the Season-toekenning vereer.
Rademan het in 2014 matriek geskryf en aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer, waar sy haar meestersgraad in opvoedkunde behaal het.
Tydens haar skoolloopbaan het sy vir vier jaar vir die skool se eerste netbalspan gespeel. Haar grootste droom was om vir Suid-Afrika te speel, wat sy verwesenlik het en tans lid van die Protea-netbalspan is.
Sy het in Desember 2020 na London verhuis om vir 'n seisoen vir die London Pulse-klub te speel. Met haar aankoms daar het sy besef sy sal vinnig moet aanpas. 'n Nuwe klub, nuwe spanmaats, 'n vreemde land en so ver van die huis af kan vir enigiemand skrikwekkend wees, soveel te meer tydens die Covid-19-pandemie.
Volgens Rademan is die London Pulse-klub 'n jong en nuwe span met ongelooflike afrigters en spelers. Sy het goed by die klub gevaar en het in haar debuutseisoen in die Vitality Netball super-league 18 wedstryde gespeel en 147 doele aangeteken, waarna sy deur die London Pulse-klub met bogenoemde toekenning vereer is.
"Die toekenning is 'n groot eer en ek is regtig baie geseënd. Dit is 'n persoonlike reis waar God my elke dag gedra het," het sy gesê. Sy het bygevoeg dat sy baie geleer het en dat dit baie harde werk geverg het.
Lefébre is ook baie dankbaar vir Engeland-netbal, wat die liga tydens die moeilike tye moontlik gemaak het. Sy is tans terug in Suid-Afrika en sê dat dit 'n ervaring was wat sy altyd sal onthou. Op die oomblik wag sy vir 'n nuwe kontrak vir die volgende seisoen en haar doelwitte is om aan die Commonwealth in Birmingham, Engeland in 2022 deel te neem, asook om daarna deel van die Wêreldbekerspan wat in 2023 in Kaapstad sal deelneem.
Haar leuse in die lewe is: "If your dreams don't scare you, they aren't big enough". Iets wat beslis vir haar waar geword het.
"Hierdie oud-leerder is 'n ongelooflike inspirasie vir die hele gemeenskap en 'n sprekende voorbeeld dat harde werk en deursettingsvermoë beloon word. Die skool is baie trots op haar,'' het die skoolhoof, Piet de Villiers gesê.
Lefébre Rademan in aksie tydens een van die wedstryde in London.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'