Die toernooi is deur NW Gauteng aangebied in die Oppenheimer stadium te Orkney. In die Ope-afdelings kon Harry Muir daarin slaag om tot die kwarteindrondte deur te dring in die mans enkels, terwyl Sandi Hart in die kwarteindrondte van die dames enkels moes onttrek weens 'n besering.
Die gemengde dubbels paar, Theo Kleinhans en Sandi Hart, moes ook ongelukkig van die semi-finale onttrek weens Sandi se besering.
In die Inter-provinsiale afdeling van die toernooi kon die span daarin slaag om ten spyte van die beserings in die span steeds met 'n algehele 4de plek te eindig in die A-afdeling.
Alhoewel Suid-Kaap een van die kleinste provinsies in die land is wat jaarliks aan die SA's deelneem, is drie van Suid-Kaap se mans s in die Top 10 gegradeer, naamlik Nico Marais (10), Harry Muir (9), en Theo Kleinhans (4). Theo Kleinhans is ook gekies vir die SACD Uitnodigingspan, terwyl Nico Marais vir die Parker-Meyer Uitnodigingspan gekies is. Harry Muir se uitgaande persoonlikheid het ook vir hom die "Mr. Flirt" toekenning besorg.
Die span se mans dubbels 1 paar, Theo Kleinhans en Harry Muir, het teen die bestes in die land te staan gekom, en het ons provinsie se vlag hoog laat wapper. Roland Ewert en Nico Marais (mans dubbels 2) het hulself ook briljant van hul taak gekwyt. Hul is veral trots op die dames dubbels 1 paar, Connie Mynhardt en Rolina Lerm, wat verseker het dat die land met nuwe oë na hierdie dames-duo kyk.

Die Stavridis span 2012 tydens die prysuitdeling is agter van links: Harry Muir (Mosselbaai), Roland Ewert (Oudtshoorn), en Theo Kleinhans (Mosselbaai). Voor van links is Rolina Lerm (Oudtshoorn), Nico Marais (Mosselbaai), en Connie Mynhardt (Sedgefield). Afwesig weens besering: Sandi Hart (Sedgefield).