8 manne van Hessequa Fietsry Klub het aan die moordende Absa Cape Epic fietswedren deelgeneem en dit suksesvol voltooi.
Baie geluk aan Ryno Stander en Johannes Joubert (Zeekoegat Sluipers), Michael Saayman en Thys Benson (Fox on the run), André van Wyk en Peet van Staden (Spar), asook CD du Toit en Derick van Staden (B-Well).
Hierdie wedren was volgens al die professionele fietsryers, sowel as fietsryers wat al vorige Epic wedrenne voltooi het, die moeilikste een ooit.
Die organiseerders is dit eens dat die wedren altyd moeilik sal wees aangesien die wedren wêreldwyd bekend is as die 'Tour de France' van bergfietswedrenne.
Dit is ook die enigste fietswedren ter wêreld waar al die beste professionele ryers gelyktydig deelneem.
Vanjaar se Cape Epic was ook die 10de herdenking van die Absa Cape Epic en het die organiseerders paaie bekendgestel aan fietsryers wat nog nooit voorheen deur enige lede van die publiek gebruik was nie. Al agt ryers het sand, slote, klippe, rotse, water, berge en reuse afdraende trotseer om die eind-punt te haal.
Van hulle het geval, opgestaan en weer gery. Van hulle het speke, bande, en skokbrekers gebreek en nogsteeds die eindpunt gehaal. Volgens die ryers is dit 'n eer om aan die Absa Cape Epic deel te neem en 'n reuse bonus om dit beseringsvry en suksesvol te voltooi.
Al die ryers wil almal bedank vir die reuse ondersteuning en gebede om hulle vir agt dae in die saal te gehou het. "Baie dankie aan die 'back-up crew' - Josef, Helga, Moonyeen, Elaine, en Ida vir al die ondersteuning van wasgoed was tot sielkundige raad. Baie dankie aan almal vir al die telefoonoproepe en sms'e. Baie dankie aan ds. Deon Beyers vir elke dag se boodskap via sms."
André van Wyk en Peet van Staden ontspan bietjie.
Peet van Staden en André van Wyk (Spar-spanmaats) asook Michael Saayman en Thys Benson (Fox on the run-spanmaats) besig met 'stage 1'.