ALBERTINIA NUUS - Die dorp se jukskeiklub kom twee keer per week op die gronde agter die dienssentrum in Kerkstraat bymekaar.
Op hierdie dae hoor jy woorde soos 'julle kort een pen', 'ons lê nou twee skeie', 'ons het die skof gewen' en 'julle het gebars'.
Die spel is al honderde jare oud, maar is baie pret en vermaak vir oud en jonk. Sportsoorte wat soortgelyk is, is kegelspel, ringgooi, rolbal en hoefystergooi, wat meestal in Amerika plaasvind. Net soos in rolbal en ander soortgelyke spelle word die afstand van skeie, naaste aan die pen, met toerusting gemeet om te verseker dat daar geen kullery is nie.
Jukskei is 'n baie gemaklike sport en inwoners van die dorp word aangemoedig om by die klub aan te sluit, asook besighede, skole en bestaande groepe wat spanne wil saamstel.
Die klub het 'n paar stelle skeie beskikbaar vir diegene wat nie hieroor beskik nie.
Oefendae is Dinsdae om 15:00 en Vrydae om 09:00. Vir verdere inligting kontak vir Carel Cronje by 073 004 3320 en word deel van die pret.
Die afstand van skeie naaste aan die pen word met toerusting gemeet. Foto’s: Jeff Gibson, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'