RIVERSDAL NUUS - Dié tweestryd kon hy nog nooit wen nie. As jou teenstander boonop 'n wêreldkampioen en huidige Paralimpiese tydtoetskampioen in dié taai sportsoort is, stry jy teen 'n oormag.
'n Onbereikbare droom.
Toe nie.
André Koen, 'n kwadrupleeg van Riversdal, het sy nemesis, Pieter du Preez en die huidige Outeniqua-rolstoelkampioen, in die 19de Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) op Saterdag 15 Oktober in George onttroon.
Koen het die 42,2 km-roete in 2 uur 7 minute en 53 sek. afgelê. Hy het Du Preez, wat vir die grootste deel van die wedren voorgeloop het, kort voor die einde verbygesteek om die uitdagende marathon te wen.
Koen het aan Suid-Kaap Forum gesê sy eerste oorwinning oor Pieter du Preez was onverwags, maar dat hy baie trots is dit hy dit nou kon regkry. "Pieter bly maar die maatstaf waarteen alle para- en kwadrupleë hulle wil meet. Hy is ongelooflik sterk en as hy eers sy neus voorgekry het, haal jy hom bitter moeilik in.
"Daarbenewens het hy 'n uitstekende ondersteuningspan en die beste tegnologie tot sy beskikking. Met borge wat dié wêreldkampioen ruim ondersteun, hoef hy hom ook nie te bekommer oor spesiale voedselaanvullings wat ten duurste aangekoop moet word nie."
Koen het ook met aanspraakmakers op podiumplekke, soos die twee blitse, Stuart McCreadie en Eugene Steyn, afgereken wat sy prestasie des te meer merkwaardig maak. Hy glo hy het die nat toestande, met reën wat voortdurend uitgesak het, beter gehanteer.
"Ek verkies, soos die meeste ander ryers, koeler weer hoewel die nat toestande dit nie maklik gemaak het nie. Dis veral die sproei wat van die voorwiel af in jou gesig teruggespat het, wat 'n uitdaging was. Mens moes maar so in die ry sluk en uitspoeg. Nog 'n kopseer was nat hande wat kort-kort van die handvatsels af gegly het. Maar dit het almal gevang."
Koen sê met die wegspring was hy vir ongeveer 400 m voor voordat Du Preez hom verbygesteek en daarna vir goed 38 km voorgeloop het. "So kort voor die eindpunt het ek die koolstofraam van Pieter se fiets in sig gekry en besef ek gaan hom vang. Dit het my ekstra woema gegee en ek het toe alles ingesit om hom verby te steek.
"Gelukkig eindig ek altyd baie vinniger as wat ek begin. Maar dié keer het ek alles gegee. Ek glo ek het die nat pad beter hanteer as Pieter." Koen sê sy deursettingsvermoë is die groot rede vir sy sukses. "Om net nooit tou op te gooi nie, wat ook al die oormag waarteen mens soms moet stry."
Sy aanloop tot Saterdag se wedren het op 'n vals noot begin toe sy motor Vrydagmiddag op die N2 net buite George gebreek het. Insleepdienste moes hom en sy ouers na hul oornagplek neem. "Ek het my heeltyd bekommer oor hoe groot die skade aan my motor was en tot oormaat van ramp het ek bitter sleg geslaap.
"Toe ek Saterdagoggend by die wegspring aantree, was ek beslis nie vrolik en vars nie. Maar nou ja, if the going gets tough, the tough gets going, né?"
Nou gaan hy vir minstens 'n week goed uitrus en dan weer van vooraf begin oefen.
Koen het weereens sy dank uitgespreek teenoor Albertinia-meubelvervoer en Hessequa-munisipaliteit wat hom geborg het. "Daarsonder sou ek beslis nie kon deelneem nie."
Maar 'n paar individue in Riversdal het ook ingespring om hom te help. Die weldoeners is Pieter, Dirk, Dawie, Jacobus, Mario, almal Riversdallers. "En natuurlik Werner van Jimmy's Body Works Spray en Louis van Langeberg Grassnyers, wat waarskynlik die beste aluminium sweiswerk in Hessequa doen."
Hopelik tree ander plaaslike besighede en sakelui nou na vore met broodnodige borgskappe. Ons het darem nou 'n OCC-kampioen in ons midde. En hy het 'n wêreldkampioen geklop.
André Koen in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'