RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se wêreldkampioene kuier in Heidelberg!
Nee, hulle is nog nie tuis nie. Hulle vertoef in die romantiese ou stad Heidelberg, Duitsland.
“Ná ons sege Sondag is die manne nog erg moeg, maar ons wil graag elke oomblik hier benut,” sê Abrie de Wet, die spanbestuurder.
“Ons het Maandag in Mannheim rondgesnuffel en die stad verken waar ons die derde keer die wêreldtitel kon inpalm.”
Dié span het sy kampioenskapstatus herbevestig om die wêreldtitel die derde keer agtereenvolgens in die 560 kg-afdeling vir junior mans o. 19 op triomfantelike wyse in te palm.
“Heidelberg se ligging is gerieflik geleë naby die stede Frankfurt, Stuttgart en Mannheim, waar ons meegeding het. ‘n Daguitstappie soontoe was vanselfsprekend,” sê De Wet.
Die gouemedaljewenners het dié skilderagtige stad met sy sonderlinge bakens, argitektoniese meesterskap, bekoorlike strate, kleurryke pleine, pragtige tuine vol beeldhouwerke, die ikoniese, verwoeste Renaissance-paleis (Heidelberg-kasteel) op 'n heuwel - met 'n asemrowende uitsig oor die dorp en die Neckarrivier - se sprokiesatmosfeer beleef.
“En ons het lékker aan Duitse geregte gesmul; van eisbein tot kerriewors - mét tjips!” verklap De Wet.
Die manne het hul beursies oopgemaak en geskenkies vir hul geliefdes tuis gekoop.
Die span arriveer Donderdag in Kaapstad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’